In Monte Carlo is Rafa baas

Tennisliefhebbers sal duimvashou dat Rafael Nadal in Monte Carlo sal afslaan. (Foto: Valery Hache/AFP)

Deesdae hang daar gereeld ʼn groot vraagteken bo Rafael Nadal se deelname aan ʼn tennisskouspel, maar sy naam pryk op die amptelike inskrywingslys van die Monte Carlo-meesterstoernooi.

En wanneer hy in Monaco afslaan, kan jy dit maar gerus glo dat hy een van die gunstelingspelers is om die silwerware omhoog te hou.

Die Spaanse matador het reeds 11 keer met die louere in dié bekende Europese stad weggestap en selfs op 37-jarige ouderdom en ná ʼn rits beserings is hy steeds een van wêreldtennis se grootste trekpleisters.

Daarbenewens is hy ook so te sê onstuitbaar op sy geliefde kleibane en hy het al vantevore 46 wedstryde op ʼn streep in Monte Carlo gewen.

Een van sy gunsteling-tennisherinneringe is juis van sy Monaco-sukses in 2005 toe hy as ʼn 18-jarige speler vir Guillermo Coria met 6-3, 6-1, 0-6 en 7-5 in die eindstryd geklop het.

Dit was sy eerste groot trofee-wenoomblik en dit het die grondslag vir sy Franse Ope-sukses ʼn rukkie later gelê.

Volgens die Monte Carlo-inskrywingslys tel Nadal onder die voorste gekeurde spelers, maar tennisliefhebbers sal nogtans asem oor sy deelname inhou.

Deesdae is sy grootste teenstander nie noodwendig Novak Djokovic, Carlos Alcaraz of Jannik Sinner nie; dit is eerder die horlosiewysers wat weier om teruggedraai te word.

Die wenner van 22 Grand Slam-titels het in Maart op die laaste nippertjie aan die Indian Wells-toernooi in Kalifornië onttrek omdat hy nie gereed was vir die eise wat met toernooitennis gepaard gaan nie.

Volgens Nadal was dit hoegenaamd nie ʼn maklike besluit om te neem nie.

“Dit was baie moeilik, maar ek kan nie vir myself en die duisende ondersteuners jok nie. Ek gaan julle mis,” het hy op sosiale media gedeel.

ʼn Heupbesering en ‑operasie het die Spanjaard in 2023 langs die baan gehou. Sy aanvanklike terugkeer vroeër vanjaar is in Australië kortgeknip nadat hy ʼn klein skeurtjie in sy linkerbobeenspier opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.