Karla terug in Protea-groep

Karla Pretorius in aksie vir die Proteas. Foto: Action Foto Sport/NurPhoto.

Die Proteas se voorbereiding vir later vanjaar se Wêreldbeker-toernooi begin in alle erns wanneer hulle vanaf 21 Januarie aan ʼn vierhoekige reeks teen Nieu-Seeland, Australië en Engeland in Kaapstad deelneem.

Norma Plummer het haar groep van 15 spelers bekendgemaak wat teen van die beste spelers ter wêreld moet kragte meet.

Goeie nuus is dat Karla Pretorius weer deel van die nasionale opset is ná die geboorte van haar eerste kind in 2022. As sterverdediger sal sy beslis vir meer woema op die baan sorg.

Die 32-jarige speler is een van wêreldnetbal se supersterre. Sy is al ʼn paar keer as die Sunshine Coast Lightning se speler van die jaar in Australië aangewys, terwyl sy ook tydens die vorige Wêreldbeker-skouspel in Liverpool as die speler van die toernooi aangewys is.

Oudergewoonte sal Bongi Msomi weer eens die span uit haar senter-posisie aanvoer, terwyl Shadine van der Merwe as die onderkaptein aangewys is.

Lenize Potgieter – wat onlangs verloof geraak het – is ook in die span ingesluit. Nicola Smith en Elmeré van der Berg is egter weens hul beserings nie oorweeg nie.

“Ons het ʼn baie mededingende span gekies en ons is opgewonde hoe hulle teen die topdrie spanne in die wêreld vaar. Die komende reeks is ʼn perfekte geleentheid om te sien waar ons as ʼn span staan. Harde werk is beslis ons voorland op ons reis na die Wêreldbeker,” het Plummer gesê.

Volgens Wêreldnetbal se amptelike ranglys is die Aussies tans die voorste netballand op die internasionale verhoog, gevolg deur Nieu-Seeland en Engeland. Suid-Afrika beklee die vyfde plek op dié lys.

Die groep kom weer Maandag vir ʼn oefenkamp in Stellenbosch byeen.

Protea-groep: Lenize Potgieter, Ine-Marí Venter, Nicholé Taljaard, Nomfundo Mngomezulu, Sesandile Ngubane, Bongi Msomi (kaptein), Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Refiloe Nketsa, Boitumelo Mahloko, Phumza Maweni, Karla Pretorius, Shadine van der Merwe (onderkaptein), Zanele Vimbela en Monique Reyneke-Meyer.

Bepalings:

21 Januarie: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland en Australië teen Engeland

22 Januarie: Suid-Afrika teen Engeland en Australië teen Nieu-Seeland

24 Januarie: Engeland teen Nieu-Seeland en Suid-Afrika teen Australië

25 Januarie: Uitspeelwedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.