Kiwi-afrigter lugtig vir Proteas se Norma en ondersteuners

Norma Plummer en haar afrigtersgroep. (Foto: Twitter/Netball SA)

Ondanks sterspeler Grace Nweke se kniebesering is die Silwer Varings een van die gunstelingspanne om met die Wêreldbeker-louere in Kaapstad weg te stap.

Die 21-jarige Nweke is ʼn wafferse masjien in die doelsirkel en sy was in die kol met 97% van haar doelpogings vóór haar ontydige besering.

Volgens Ameliaranne Ekenasio was die span platgeslaan toe hulle die nuus hoor, maar hulle is oorgehaal om hul beste op die baan te lewer.

“Daar was baie emosie en trane; tog weet ons hoe belangrik dit is om saam te staan. Dinge gebeur in ʼn spanopset wat jou óf uitmekaar kan trek óf die band tussen die spelers versterk,” het die Kiwi-kaptein gesê.

Noeline Taurua, afrigter, stem saam met haar kaptein se saamstaan-stelling.

“Ons het nog altyd geweet dat ons nie net op die vaardighede van een persoon kan steun nie. Ons moet seker maak dat ons spelers het wat verskeie rolle op die baan kan vertolk,” het die 55-jarige afrigter gesê.

Die Nieu-Seelanders speel vanaand teen Suid-Afrika in ʼn Groep G-wedstryd en Taurua het erken dat sy versigtig vir Norma Plummer is.

Die uitgeslape Aussie het vroeër haar 100ste internasionale wedstryd saam met die Proteas gewen en sy beskik ongetwyfeld oor die vermoë om ʼn haas uit die hoed te pluk; selfs teen ʼn gedugte Nieu-Seelandse span.

“Ek is maar skrikkerig vir haar,” het Taurua met ʼn glimlag gesê.

“Norma is ongelooflik. Sy is een van die bestes nóg, ʼn legende en ek het baie respek vir haar.”

Die Nieu-Seelanders het in Januarie in ’n vierhoekige netbalreeks in Suid-Afrika gespeel en hulle weet dat die tuisspan se ondersteuners met ’n bykomende speler op die baan vergelyk kan word.

“As daar een ding is wat ons in die vierhoekige reeks geleer het, is dit dat ons nie net teen spelers op die baan speel nie, maar ook teen die toeskouers in die pawiljoen. Dit gaan lekker raserig op die baan wees.”

Uitslae:

Engeland 89 – 28 Fidji

Zimbabwe 71 – 36 Sri Lanka

Tonga 55 – 47 Skotland

Australië 70 – 46 Malawi

Barbados 55 – 50 Singapoer

Woensdag se bepalings:

09:00: Zimbabwe teen Singapoer

11:00: Wallis teen Uganda

16:00: Jamaika teen Trinidad en Tobago

18:00: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

20:00: Sri Lanka teen Barbados.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.