Klappende kussings nou ook ’n sport

Kussinggevegte is nou ’n amptelike sportsoort. Foto: Twitter.

Waarom sal enigiemand nog wil appels swaai as jy ’n meningsverskilletjie met ’n kussing of twee kan oplos?

Want of jy dit nou wil glo of nie, kussinggevegte is deesdae ’n volwaardige sportsoort.  Kompleet met reëls, regulasies en ’n titel of twee.

En Steve Williams, uitvoerende hoof van Fight PFC, het ongetwyfeld ’n gaping in die mark raakgesien.

“Atlete hou nie noodwendig daarvan om seer te kry nie, terwyl baie mense ook nie eintlik wil sien hoe die bloed spat nie. Hulle is gretig vir ’n lekker mededingende geveg, maar sonder al die geweld,” het Williams gesê.

Moet egter dan ook nie vir een oomblik dink dat ’n tweestryd in ’n giggelfees gaan ontaard waar deelnemers vrolik en bly rondbons nie.

Aikôna, hierdie is ’n ernstige storie.

“Dit is nie iets om oor te lag terwyl vere om jou rondwaai nie. Die vegters swaai die spesiale kussings met mening,” het Williams aan Reuters gesê.

Die eerste PFC-kampioene is ook onlangs in Florida aangewys: Istela Nunes (Brasilië) en Hauley Tillman (VSA) het met die titels en $5 000-prysgeld weggestap.

Volgens oorsese mediaberigte het die kussingklappende aksie die aandag van verskeie gemengdegevegskuns-sterre getrek.

Marcus Brimage, die man teen wie Conor McGregor destyds sy Ultimate Fighting Championship-buiging gemaak het, was ook deel van die aksie.

Nodeloos om te sê, daar sal nie sommer ’n bloeiende neus of ’n blouoog wees nie (tensy ’n vuil uil ’n bietjie sement in sy kussingsloop gooi), maar volgens Williams dra die pretfaktor meer gewig as enige uitklophou.

Regte klappe ook ’n sport

Vasily Khamotiskiy (regs) gee sy teenstander ‘n oorveeg. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Maroela Media het ’n jaar of twee gelede ook berig dat om plathandklappe uit te deel ’n sportsoort in Rusland is.

Vasily Khamotiskiy, ’n boer wat net ’n rapsie meer as 140 kg weeg, was die naam op almal se lippe nadat hy as die land se eerste klapkoning aangewys is.

Om die kampioen te word, verg – anders as met skaak – nie juis te veel dinkwerk nie. Nadat talle video’s op YouTube bestudeer is, is die reëls eintlik heel eenvoudig: Jy speel basies hou vir hou met jou teenstander en die een wat eerste harpuis ruik of rooiwang die handdoek ingooi, verloor.

Dalk is ’n kussinggeveg beter vir die gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vonkprop ·

Ons mensdom raak net al dommer. Ons is lankal nie meer bo-aan die voedselketting nie.

piet ·

Ek hou hiervan. Uiteindelik ‘n sport wat nie sommer beserings gaan veroorsaak nie. Om te dink dit het solank gevat om die potensiaal raak te sien. Ons het altyd op rugbytoere kussinggevegte gehad. Jy kan ‘n ou lekker dof in die kop moker, moet nie ‘n fout maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.