Kyalami se F1-terugkeer kry momentum

Stefano Domenicali. Foto: Giuseppe Cacace/AFP.

F1 kan sy pad na Kyalami terugvind nadat Stefano Domenicali (F1 se uitvoerende hoof) ná die Azerbeidjan-wedren na Suid-Afrika gevlieg het om plaaslike verteenwoordigers te ontmoet.

Dié motorsport het laas in 1993 ’n draai in Suid-Afrika gemaak toe die Fransman Alain Prost op die Kyalami-renbaan koning gekraai het. Die legendariese Ayrton Senna het toe tweede klaargemaak, gevolg deur Mark Blundell.

Sedertdien het verskeie F1-sterre – onder wie Lewis Hamilton en Max Verstappen – aangedui dat hulle graag in Suid-Afrika sal wil jaag.

“Ek sal daarvan hou om in Afrika aan ’n wedren deel te neem. Daarom sal Kyalami ’n cool toevoeging wees,” het die jong Red Bull-renjaer gesê.

In die volgende paar seisoene sal die renmotors se enjins weer in Sjina, Las Vegas en Katar brul, terwyl Afrika die enigste vasteland sonder ’n F1-wedren is.

“Dit is belangrik dat die sport ook daar ’n draai maak. As ons dan in elke ander kontinent jaag, waarom dan nie ook in Afrika nie?” het Hamilton in ’n onderhoud met ESPN gevra.

“Ek dink dat F1 ’n gewilde sportsoort in Suid-Afrika is en dit sal ’n wonderlike manier wees om die natuurskoon van die vaderland te onderstreep.”

In ’n vorige gesprek met RacingNews365 het Warren Scheckter, uitvoerende hoof van die plaaslike Grand Prix-vereniging, gesê dat die wiele vir ’n Suid-Afrikaanse wedren beslis aan die rol is, maar dat daar ook nog heelwat water in die see moet loop.

Indien Domenicali se besoek vrugte werp, kan die Belgiese Grand Prix op die Spa-Francorchamps-renbaan moontlik in die slag bly.

Volgens die BBC is die F1-base glo bekommerd oor die ikoniese baan se infrastruktuur terwyl die geriewe ook teen ander bane afsteek.

Terselfdertyd sal daar dan 24 wedrenne op die F1-kalender wees; die meeste nóg in die sport se geskiedenis.

  • Verstappen is tans die voorloper op vanjaar se jaerspunteleer ná sy heldedade in die strate van Bakoe.

Die seisoen is egter nog lank nie verby nie en daar is nog 14 wedrenne op die horison.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grens ·

Dit is die goed wat geld in SA kan inbring, maar lyk my ‘n groot vlag vir die ANC is ‘n beter beleging.

Snuffelgids ·

Dit sal asemrowend wees, ek hoop regtig al julle harde werk agter die skerms word beloon.

Willi ·

Kyalami is nie geskik vir sulke wedrenne nie en is oor die jare so verander dat omtrent net televisie kykers iets daar sal kan sien. Te veel draaijies, kinkels en geboue beperk die spoed sodanig dat ek met my trapfiets vinniger daar sal kan ry. Wonder ook wie gaan nou weer omgekoop gaan word?

MakersMark ·

Hoop die droom word werklikheid. Stukkie eerste wêreld in die donkerte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.