Murray kan sy Olimpiese titel verdedig

Andy Murray in Rio de Janeiro. Foto: Luis Acosta/AFP.

Andy Murray het in 2012 en in 2016 die goue medalje by die Olimpiese Spele op die tennisbaan verower. Nou kry die 34-jarige speler die geleentheid om sy titel te verdedig nadat hy vir die Britse Olimpiese span gekies is.

Die Skot, ’n voormalige wêreldnommereen-speler, sukkel die afgelope ruk kwaai met beserings en hy is tans 119de op die wêreldranglys.

Hy moes hom ook vroeër vanjaar weens ’n liesbesering aan ’n wedstryd teen Suid-Afrika se Lloyd Harris by die Miami-ope onttrek.

“Daar was geen probleme toe ek vir die toernooi voorberei het nie en ek het ’n paar dae terug nog sonder enige probleme in die gimnasium gesweet. Maar toe word ek om 03:00 wakker met ’n steekpyn in my lies en ek kon kwalik loop,” het Murray destyds gesê.

Maar die vooruitsig lyk nou baie beter vir die ervare speler.

Hy gaan binnekort vir die eerste keer sedert 2017 in aksie op Wimbledon wees, terwyl hy ook deel van die Britte se dubbelspel-veldtog saam met Joe Salisbury in Tokio is.

“Die Olimpiese Spele beteken ongelooflik baie vir my en dit is ’n eer om vir die vierde keer deel te neem.

“Om die vlag in Rio de Janeiro tydens die openingseremonie te dra is ongetwyfeld een van die hoogtepunte van my loopbaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.