Nadal gereed vir Rome-terugkeer

Rafael Nadal sal weer by die Italiaanse Ope in Rome afslaan. (Foto: X)

Rafael Nadal, die wenner van 22 Grand Slam-titels, sal weer by die Italiaanse Ope in Rome afslaan.

Sou die 37-jarige Nadal deurdring na die tweede ronde in die Italiaanse hoofstad, waar hy die titel ʼn rekordgetal van tien keer gewen het, kan hy moontlik teen die negende gekeurde Hurbert Hurkacz te staan kom.

Ook aan Nadal se kant van die loting is die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, en 2023-finalis Holger Rune.

Die Spanjaard het drie jaar terug in Rome geseëvier. Hy het weens ʼn besering aan verlede jaar se toernooi onttrek.

Sedert sy terugkeer in April ná drie maande langs die kantlyn, beklee hy die 305de plek op die ATP-toerranglys vir mans. Hy was verlede jaar skaars op die tennisbaan in aksie, maar hy vind nou weer sy voete ná toernooie in Barcelona en Madrid.

Na verwagting wil Nadal ná vanjaar se seisoen sy raket wegbêre, maar hy het nog nie aangedui presies wanneer dit sal wees nie.

Talle fisieke probleme het hom die afgelope twee jaar gekniehalter en hy het gesê dat hy eers later vandeesmaand by Roland-Garros in Frankryk sal deelneem as hy wel mededingend voel.

Intussen sal Novak Djokovic óf ʼn kwalifiseerder óf Rusland se Roman Safiullin in die tweede ronde die stryd aansê, terwyl hy vir ʼn sewende titel in Rome met sterk teenstanders gaan meeding.

Jannik Sinner, die gasheerland se plaaslike tennisster en tweede gekeurde speler, het aan die toernooi onttrek weens ʼn besering.

Carlos Alcaraz het Vrydag aangedui dat hy ook nie in aksie gaan wees nie omdat hy met ʼn armbesering sukkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.