Netbalspan weer in vierhoekige reeks gewikkel

Die Spar Proteas is weer Januariemaand in ’n vierhoekige reeks gewikkel. Foto: Twitter.

Die Spar Proteas reis vroeg in 2020 weer na Engeland waar hulle in ’n vierhoekige reeks teen van die wêreld se voorste netballande gewikkel sal wees.

Die Suid-Afrikaners sal teen Jamaika en Engeland kragte meet; spanne met wie hulle al vanjaar afgereken het. Dan wag daar ook ’n watertand-ontmoeting met Nieu-Seeland – die huidige wêreldkampioen.

Die Proteas sal hul veldtog op 19 Januarie teen Jamaika in Nottingham afskop. Die Proteas kon die eilandmeisies vir die eerste keer in sewe jaar gedurende die afgelope Wêreldbeker-netbaltoernooi klop.

Dan is Engeland aan die beurt; teenstanders wat die Proteas baie goed ken.

In die afgelope reeks tussen dié twee lande in Kaapstad was dit ’n naelbyt-affêre, met die Suid-Afrikaners wat die eerste twee kragmetings met minder as ses doele verloor het. Hulle het die laaste wedstryd met 54 – 48 gewen.

Nieu-Seeland sal weliswaar taai kalante wees, maar Bongi Msomi se span het hulle vroeër vanjaar goed skrikgemaak toe hulle met net twee doele teen die wêreldkampioen in Liverpool verloor het.

Boonop is Karla Pretorius óók terug vir die vierhoekige reeks.

Pretorius, wat vanjaar met ’n rits toekennings spog (waaronder die mees waardevolle speler by die Wêreldbeker-netbaltoernooi), het die Afrika-kampioenskap, sowel as die Engelse reeks misgeloop.

Haar teenwoordigheid sal ’n reeds gedugte span net nog meer woema gee.

“Ek sien baie uit na ’n opwindende toernooi tussen van die beste netballande ter wêreld. Daar gaan geen maklike wedstryde wees nie, maar met Karla terug in die tuig en met Bongi as kaptein kan almal opgewonde wees,” het Dorette Badenhorst (afrigter) gesê.

Proteas: Ine-Mari Venter, Lenize Potgieter, Lefébre Rademan, Sigi Burger, Bongi Msomi, Izette Griesel, Romé Dreyer, Khanyisa Chawane, Phumza Maweni, Shadine van der Merwe, Zanele Vimbela en Karla Pretorius.

Bepalings:

19 Januarie: Proteas teen Jamaika (Nottingham)

22 Januarie: Proteas teen Engeland (Birmingham)

25 Januarie: Proteas teen Nieu-Seeland (Londen)

26 Januarie: Uitspeelwedstryde (Londen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.