Novak deur na kwarteindstryd in Adelaide

Novak Djokovic in aksie in Adelaide. Foto: Brenton Edwards/AFP.

ʼn Nuwe jaar, maar dieselfde Novak Djokovic.

Die Serwiese tennisster het vandag ʼn agterstand van 2-5 in die eerste stel teen Quentin Halys uitgewis om die wedstryd uiteindelik met 7-6 en 7-6 te wen.

Sodoende het hy vir die kwarteindstryd van die Adelaide International 1-toernooi gekwalifiseer waar Kanada se Denis Shapovalov vir hom wag.

Hoewel Halys nog nie een wedstryd teen ʼn speler onder die top 30 kon wen nie, was Djokovic vol lof vir die jong Fransman.

“My teenstander het vandag baie goed gespeel en sy veggees het my veral beïndruk. Hy het trouens gespeel soos iemand wat onder die 10 topspelers ter wêreld tel. Sy kragtige afslane is sy grootste wapen en op ʼn vinnige baan soos hierdie een was dit veral ʼn moeilike uitdaging vir my gewees,” het die voormalige wêreldnommereenspeler gesê.

Oudergewoonte het Djokovic egter ʼn antwoord vir selfs sy teenstander se moeilikste vraag gereed gehad en hy het nóg ʼn wedstryd gewen.

Die 35-jarige speler het nou al in 20 van sy laaste 21 kragmetings die septer geswaai en die eindstryd wink ook vir hom in Adelaide; hy weet immers presies hoe om uitklopwedstryde te wen.

“Ek het respek vir Denis en ek het lanklaas teen hom gespeel; dus sien ek uit na die uitdaging.”

Net om dinge vinnig in perspektief te plaas: Djokovic het al sewe keer as die oorwinnaar van die baan teen Shapovalov gestap, terwyl die Kanadese ster nog nie een van hul tweestryde kon wen nie.

Met die Australiese Ope wat oor 11 dae in Melbourne begin, moet Djokovic ongetwyfeld ook daar een van die gunstelinge wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.