Olé! De Minaur wen in Mexiko

Alex de Minaur vier sy oorwinning in Mexiko. (Foto: Rodrigo Oropeza/AFP)

Alex de Minaur het sy Mexikaanse Ope-titel suksesvol verdedig toe hy vir Casper Ruud met 6-4 en 6-4 in die eindstryd van die toernooi in Acapulco geklop het.

Dit was die agtste ATP-titel van die Aussie se loopbaan en sy 15de wedstrydsege van die seisoen.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het glad nie goed in aanloop tot die toernooi gevoel nie en ek moes myself die heeltyd moed inpraat. Ek kon egter in die eindstryd my beste tennis van die toernooi speel en ek is baie tevrede met my vertoning,” het De Minaur gesê.

Volgens die Australiër geniet hy dit om in dié Mexikaanse stad af te slaan.

“Acapulco was nog net goed vir my gewees. Ek het hier my eerste ATP 500-toernooi gewen en ek kon nou ook vir die eerste keer ʼn titel suksesvol verdedig. Ek voel tuis en dit is ʼn wonderlike plek om te besoek.”

Fransman wen in Dubai

Dan het Ugo Humbert sukses tussen die duine gesmaak toe hy die Dubai-ope gewen het. Die Fransman het Alexander Bublik met 6-4 en 6-3 in die eindstryd geklop om die silwerware omhoog te hou.

Humbert verloor ook nie sommer ʼn tweestryd wanneer hy tot die eindstryd van ʼn toernooi vorder nie, en hy het nou ses titels gewen sonder om een keer aan die verloorkant te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.