Plaaslike motorfietsjaer gaan op groot verhoog jaag

Nicole van Aswegen. (Foto: Verskaf)

Nicole van Aswegen, ’n Suid-Afrikaanse motorfietsjaer, is op pad na Europa vir die eerste FIM-motorfietswêreldkampioenskap vir vroue.

Dit sal die eerste keer in 2024 wees dat vrouedeelnemers ook op hul superfietse oor ses rondes by sekere Europese bane gaan rondjaag.

Meer as 40 deelnemers het aansoek gedoen om aan die kampioenskap deel te neem en uiteindelik is net 24 gekies om by die eerste weergawe van die reeks in aksie te wees.

Die Pirelli Emilia Romagna-ronde is van 14 tot 16 Junie, met die eerste amptelike tydtoets wat reeds op 17 Mei wegspring.

Van Aswegen het eers die Suid-Afrikaanse 600 cc-kampioenskap vroue in 2010 gewen en toe geskiedenis gemaak deur die eerste vrou te word om op die podium van die nasionale SuperSport-wedren te staan.

Dié adrenalienverslaafde sê die komende hoë-oktaanaksie op die internasionale verhoog sal beslis die toppunt van haar loopbaan wees en ’n droom wat waar word – die hoogtepunt van jare se harde werk en toewyding.

Nicole van Aswegen. (Foto: Lawrence Paiken/FatBoy Photography)

Sy is opgewonde oor die geleentheid om haarself teen die bestes te toets en om Afrika te verteenwoordig.

“Dit verg ure se oefening op die baan om jouself en jou fiets tot op die uiterste te toets. Ek oefen soms twee keer per dag waar ek baie fiksheid- en kragoefeninge doen,” het sy gesê.

Van Aswegen sê die grootste uitdaging is egter om geestelik voor te berei.

“Die vroue teen wie ek gaan meeding, is baie jonger en professionele ryers. Daarteenoor is ek ʼn ma met ʼn voltydse werk.

“Dit verg baie krag en moed. Ek is egter werklik geseënd om wonderlike mense saam met my op hierdie reis te hê.”

Die Suid-Afrikaner vertel dat sy motorfietswedrenne “leef, eet, slaap en droom” en dat dié gogga haar as tiener gebyt het. Terselfdertyd is sy ook passievol om die sport te laat groei.

“Suid-Afrika is relatief ver agter die meeste ontwikkelde lande met die getal vrouedeelnemers wat oor die jare afgeneem het. Daar is baie werk om te doen om dinge weer op koers te kry.”

Deur ’n geleentheid te kry om haar talent en deursettingsvermoë op die wêreldverhoog ten toon te stel, poog Van Aswegen ook om nie net haar dogter nie, maar ook ander jong meisies reg oor Suid-Afrika te inspireer.

Nicole van Aswegen. (Foto: Lawrence Paiken/FatBoy Photography)

“Dit is regtig ’n trotse oomblik en ’n groot geleentheid om die Suid-Afrikaanse vlag te laat wapper. Ek wil vir my dogter en al die jong meisies in ons pragtige land wys dat enigiets moontlik is – hulle moenie dat twyfel en vrese hulle terughou nie.”

Adrian Scholtz, uitvoerende hoof van Motorsport Suid-Afrika, sê Van Aswegen se getuigskrif is merkwaardig.

“Ons is so trots op hoe goed sy gedoen het en ook wat sy gedoen het om meer vroue in die sport aan te moedig,” se Scholtz.

Met haar visier op glorie in 2024, is Van Aswegen gereed om Suid-Afrika met trots en vasberadenheid te verteenwoordig.

“Ek dra my hart op my mou en ek gaan daarheen om te wys waarvan Suid-Afrikaners gemaak is. Dit het bloed, sweet en trane gekos, maar ek staan ​​steeds en ek is gereed om my land trots te maak,” sluit sy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.