Rafa mik na titel in Novak se afwesigheid

Rafael Nadal van Spanje hou die trofee vas kort nadat hy die Amerikaanse Ope-tenniskampioenskap gewen het (8 September 2019). (Foto: Charles Krupa/AP)

Rafael Nadal sal poog om die 23ste Grand Slam-titel van sy loopbaan in te oes wanneer die Amerikaanse Ope volgende week in New York begin.

Die 36-jarige speler het die eerste wedstryd ná sy jongste besering in Cincinnati teen Borna Coric (die uiteindelike wenner van die Western & Southern-ope) met 7-6, 4-6 en 6-3 verloor.

Hoewel sy maagspierbesering sy afslaanwerk gekniehalter het, begin hy stadig maar seker weer op alle suiers op die oefenbaan vuur.

Grand Slam-glorie is immers op die spel.

“Ek slaan steeds meer versigtig as normaalweg af, maar ek is meer as tevrede met die intensiteit waarmee ek oefen. Ek het vir die afgelope vyf dae elke dag oefenstelle gespeel en dit help ’n mens beslis,” het Nadal gesê.

Die Spaanse ster het reeds vier keer in sy loopbaan met die Amerikaanse Ope-louere weggestap en in Novak Djokovic se afwesigheid behoort hy een van die gunstelinge te wees om weer die silwerware omhoog te hou.

“Ek is bly om weer hier te kan speel. New York speel ongetwyfeld ’n belangrike rol in my loopbaan en ek sien uit daarna om met elke oefensessie te verbeter.”

Tog is hy hartseer dat Djokovic nie saam met hom by die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar sal afslaan nie.

Die Serwiese ster se inentingstatus beteken dat hy nog ’n toernooi sal misloop nadat hy vroeër vanjaar ook toegang tot die Australiese Ope geweier is.

“Dit is altyd jammer wanneer een van die beste spelers in die geskiedenis van die spel nie deel van die Grand Slam-aksie is nie. Dit is moeilik vir die ondersteuners én vir die toernooi. Dit is ook nie goed vir die spelers nie, want ons wil teen die beste speel.”

Hy meen egter dat die Amerikaanse Ope nie van sy glans met Djokovic se afwesigheid sal verloor nie.

“Ek het dit al ’n hele paar keer vantevore gesê – die spel is groter as enige speler. Tennis sal voortgaan, selfs wanneer ek, Novak of Roger (Federer) nie meer speel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.