Red Bull, McLaren op Shanghai-podium

Lando Norris, Max Verstappen en Sergio Perez in Shanghai. (Foto: Paulo Maria/DPPI via AFP)

Ondanks ʼn veiligheidsmotorsessie is die geruite vlag weer eens vir Max Verstappen geswaai. Dié keer in Shanghai.

Dit is die verdedigende wêreldkampioen se vierde oorwinning van die seisoen en hy was net tydens die Australiese Grand Prix nie op die podium nie nadat hy probleme met sy remme in Melbourne ondervind het.

Verstappen geniet tans ʼn voorsprong van 25 punte bó sy spanmaat Sergio Perez op die jaerspunteleer en dit lyk nie of hy sommer in sy spore gestuit sal word nie.

Hy het oudergewoonte weer die wedrenaksie in sy truspieëltjie gevolg.

“Dit voel ongelooflik en ons was die hele naweek baie vinnig op die baan. Ek het die wedren baie geniet en dit was ʼn vreugde om die motor te bestuur,” het Verstappen gesê.

“Dit was as’t ware of die renmotor op treinspore beweeg het – ek kon enigiets agter die stuur doen en die vuurwa het saamgespeel.”

McLaren se Lando Norris was tweede, terwyl Perez ook op die podium gestaan het.

“Ek is eintlik ʼn bietjie verras, maar terselfdertyd ook baie bly dat dinge vandag goed vir ons uitgewerk het. Alles het skielik net in plek geval en ek was op my gemak op die baan,” het die jong Engelsman gesê.

Ferrari-spanmaats Charles Leclerc en Carlos Sainz was onderskeidelik vierde en vyfde, gevolg deur Mercedes se George Russell en Fernando Alonso van Aston Martin.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lando Norris (McLaren)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Fernando Alonso (Aston Martin)
  8. Oscar Piastri (McLaren)
  9. Lewis Hamilton (Mercedes)
  10. Nico Hulkenberg (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 110 punte
  2. Sergio Perez: 85 punte
  3. Charles Leclerc: 76 punte
  4. Carlos Sainz: 69 punte
  5. Lando Norris: 58 punte
  6. Oscar Piastri: 38 punte
  7. George Russell: 33 punte
  8. Fernando Alonso: 31 punte
  9. Lewis Hamilton: 19 punte
  10. Lance Stroll: 9 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 195 punte
  2. Ferrari: 151 punte
  3. McLaren: 96 punte
  4. Mercedes: 52 punte
  5. Aston Martin: 40 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.