Stillknocks: ‘Jul ondersteuning het my aangevuur’

Dricus “Stillknocks” du Plessis het al twee sy UFC-gevegte gewen. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Dricus “Stillknocks” du Plessis het sy ondersteuners in Suid-Afrika bedank nadat hy Sondag met Trevin Giles in Las Vegas afgereken het.

Die gemengdegevegskuns-atleet het sy Amerikaanse teenstander met ’n klipharde regtervuishou planke toe gestuur en die geveg is kort daarna stopgesit.

“Jul ondersteuning was ongelooflik en dit het my beslis aangevuur. Hierdie is slegs die begin; die goud [titel] kom binnekort huis toe,” het hy op sosiale media gedeel.

Volgens Du Plessis voel hy al hoe meer tuis in die Ultimate Fighting Championship (UFC)-hok.

Dit is die tweede agtereenvolgende keer dat hy ’n UFC-teenstander katswink slaan; een van sy opstoppers het verlede Oktober vir Markus Perez góéd in die eerste ronde van hul tweestryd in Abu Dhabi getref en die gevegsbeampte moes ook toe die aksie beëindig.

“Voor die einde van die jaar wil ek in nog ’n geveg betrokke wees om my plek onder die voorste atlete in my gewigsklas te verseker. Daarna wil ek die titel jaag.”

Hoewel ’n paar van die toeskouers hom die afgelope naweek uitgejou het – Giles is immers ’n Amerikaner – het Joe Rogan, die gewilde UFC-kommentator, hom geloof en onder meer sy sege as ’n “uitstekende oorwinning” bestempel.

Sosiale media het ook oor die Suid-Afrikaner se uitklophou gegons. Giles se vuishoue word wyd en syd as die vinnigste in die UFC gereken, maar Stillknocks se vuiste doen egter kliphard die praatwerk.

“My naam is Dricus du Plessis. Waar ek vandaan kom, is dit nie ’n baie moeilike naam om uit te spreek nie, maar ek sien mense sukkel om dit te sê. Onthou dit maar gerus, want dit gaan binnekort ’n alombekende naam in UFC-kringe wees,” het hy ná die geveg aan Rogan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.