Tennis se keisers is in Rome

Rafael Nadal vier een van sy oorwinnings in die Italiaanse Ope. (Foto: Filippo Monteforte/AFP.)

Rome het verlede maand sy 2 777ste verjaardag gevier en die “Ewige stad” het al baie historiese figure gesien kom en gaan.

Van Julius Caesar en sy ongekende ambisie tot die hervorming van Konstantyn die Grote en Michelangelo se meesterlike werk in die Vatikaanstad.

Meer onlangs het die stad en sy inwoners ook regstreekse toegang tot beste kleibaan-tennisspeler wat die wêreld nóg gesien het.

Rafael Nadal het reeds tien keer die Italiaanse Ope-silwerware op die bane van die Foro Italico omhoog gehou.

En hy is vanjaar, waarskynlik vir oulaas, weer in die Italiaanse hoofstad te sien.

Die 37-jarige Spanjaard is besig om weer sy voete op die tennisbaan te vind nadat beserings hom vir meer as ʼn jaar van die spel weggehou het.

Hy het sy amptelike terugkeer in Barcelona gemaak, terwyl hy tot die vierde ronde van die Madrid-ope gevorder het.

“Ek is opgewonde om in Rome te speel. Dit is ʼn toernooi wat al vir talle onvergeetlike oomblikke gesorg het,” het Nadal gesê.

“Dit is my derde ATP-toernooi in ʼn ry en dit is vir my baie goeie nuus. Dit is ʼn speelprestasie wat ek geruime tyd nie kon ervaar nie.”

Dié wenner van 22 Grand Slam-titels speel vandag in sy openingswedstryd van die Italiaanse Ope teen België se Zizou Bergs.

“Daar was ʼn paar moeilike oomblikke op my terugkeerpad, maar in die geheel is ek baie tevrede. ʼn Maand gelede sou ek gedink het dit is ʼn onwaarskynlike droom om in Barcelona, Madrid en nou in Rome te speel. Dinge is aan’t gebeur.”

Novak ook weer gereed vir aksie

Intussen het Novak Djokovic aangedui dat hy fris en vars in die aanloop tot die tennisskouspel in Rome voel.

Novak Djokovic in Rome. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Die wêreld se voorste speler was laas in halfeindstryd van die Monte Carlo-ope in aksie en boonop kon hy vanjaar nog nie daarin slaag om ʼn toernooi te wen nie.

“Ek het genoeg tyd gehad om te rus en om voldoende voor te berei. Ek is baie tevrede met my werk van die laaste twee weke en ek is opgewonde om in Rome af te slaan,” het Djokovic gesê.

Keiser Augustus het donkiejare gelede lekker oor sy positiewe invloed op Rome se argitektuur gespog: “Rome was ʼn stad van bakstene en ek het dit in ʼn stad van marmer omtower.”

Nou ja, dan kan ʼn mens in dieselfde asem sê dat Rafael Nadal en Novak Djokovic ook van wêreldtennis ʼn groter skouspel gemaak het.

Uitslae:

Sofia Kenin klop Lucia Bronzetti met 6-3 en 6-2

Naomi Osaka klop Clara Burel met 7-6 en 6-1

Mayar Sherif klop Petra Martic met 6-2 en 6-2

Lesia Tsurenko klop Donna Vekic met 6-2, 3-6 en 7-6

Aleksandar Vukic klop Diego Schwarzman met 6-2 en 6-2

Thiago Monteiro klop Gael Monfils met 6-2 en 7-5

Luciano Darderi klop Denis Shapovalov met 6-7, 6-3 en 7-6

Yoshihito Nishioka klop Sebastian Ofner met 6-3, 2-6 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Dis nou ‘n lekker artikel met die interessante invalshoek van die antieke tye. Ons sien baie uit daarna om te sien wat in Rome gaan gebeur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.