Tsitsipas gereed om raket in Turyn te swaai

Stefanos Tsitsipas. (Foto: Andy Wong, AP)

Stefanos Tsitsipas speel Sondag in sy eerste wedstryd van die ATP-eindronde teen Jannik Sinner in Turyn.

Dit is die vyfde jaar op ʼn streep dat die 25-jarige speler vir die toernooi kwalifiseer.

“Dit is ʼn unieke geleentheid. Baie spelers – selfs al is jy 200ste op die wêreldranglys – kan in ʼn Grand Slam-toernooi speel, maar nie baie kan spog dat hulle deel van die ATP-eindronde was nie,” het Tsitsipas gesê.

Volgens die Griekse ster speel hy meer volwasse tennis sedert hy in 2019 sy eindronde-buiging in Londen gemaak het.

“Ek is baie rustiger op die baan. Ek het juis vroeër daaraan gedink dat my sienswyse oor die lewe en tennis ook baie verander het. Dalk is dit omdat ek ouer en wyser is, maar ek kyk beslis met nuwe oë na baie dinge.”

Hy weet egter dat Sinner allesbehalwe kanonvoer in hul wedstryd sal wees.

“Hy speel onverskrokke tennis en hy beweeg soos ʼn atleet op die baan. Ek dink Jannik kan binne ʼn oogwink op enige plek op die baan wees – sy voetwerk is baie flink. Daarbenewens is sy houspel baie meer bestendig as vantevore.”

Tsitsipas sal ook later in die toernooi rakette met Novak Djokovic kruis; ʼn speler teen wie hy al 11 keer die onderspit gedelf het.

“ʼn Mens kan onmiddellik Novak se teenwoordigheid op die tennisbaan aanvoel. Sy liggaamstaal is altyd positief en sy kop is baie sterk – hy verloor bitterselde moed. Hy is ongelooflik gefokus en speel met die korrekte ingesteldheid; hy is iemand wat nooit in sy eie vermoë twyfel nie.”

Spelers wat vir die ATP-eindronde gekwalifiseer het:

Novak Djokovic, Carlos Alcaraz, Daniil Medvedev, Jannik Sinner, Andrey Rublev, Stefanos Tsitsipas, Alexander Zverev en Holger Rune.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.