Vasberade Nieuwoudt ’n driekamp-wêreldster in wording

Foto: Verskaf.

Ironman-kompetisies het al gesorg dat Magda Nieuwoudt se paspoort in lande soos Engeland, Skotland, Spanje, Duitsland en Thailand gestempel word. Maar van die taaiste uitdagings was waarskynlik die afgelope paar maande in haar geboorteland, waar sy die unieke oefenuitdagings van die Covid-19-era moes bemeester.

Hoewel die aanvanklike afsonderingsperiode haar bewegingsruimte kwaai beperk het – onthou dat driekamp-atlete daaraan gewoond is om tot 3,8 km te swem, 180 km fiets te ry en 42,2 km te draf – was haar ouerhuis in Christiana se agterplaas nog nooit só bedrywig nie.

“Ek sal nooit vergeet hoe ek 400 m-sessies rondom die huis gedoen het nie; mens het net hoenders en honde in alle rigtings sien spaander soos wat ek om die draaie gehardloop het! Maar ek kon vinnig aanpas en ek het my konsentrasie na ander areas geskuif waarin ek kon verbeter het,” het sy aan Maroela Media gesê.

Soos wat die regulasies stelselmatig verslap is, het nuwe probleme na vore gekom: Hoewel dit oukei was om buite te draf en fiets te ry, was dit steeds taboe om iewers te swem. En soos reeds genoem; swem is ’n taamlik belangrike dissipline vir ’n driekamp-atleet.

“Ek het alles probeer – onder meer om termiese kleredrag onder my duikpak aan te trek – en ek het by ’n vriendin van my se ouers gaan swem; maar goeiste, dit was ongelooflik koud! Ek het so tien minute uitgehou, maar ten minste het ek iets probeer.”

Foto: Verskaf.

Dit is juis hierdie sielkundige spierkrag wat van Nieuwoudt ’n gedugte driekamp-atleet maak: Sy gee nie sommer op nie. Nee wag, ʼn mens kan dit beter stel – sy gooi eintlik nooit tou op nie.

Een van die laagste punte in haar jong loopbaan het sy juis in ’n positiewe uitdaging omskep; en dít sit nie in enigeen se broek nie.

“Ek is twee jaar gelede met ’n hartdefek gediagnoseer en ek moes vir drie maande op só ’n manier oefen dat my hart nie vinniger as 120 slae per minuut klop nie. Dit was ’n groot uitdaging, maar dit is ongelooflik om te sien hoe ’n mens se liggaam by enige situasie kan aanpas.”

Natuurlik sorg haar talent en deursettingsvermoë ook vir hoogtepunte – soos die vierde plek wat sy by die Skotse Ironman 70.3 behaal het.

Foto: Verskaf.

“In die eerste jaar wat ek as ’n professionele atleet deelgeneem het, is die wêreldkampioenskap in Port Elizabeth aangebied en die atmosfeer was fantasties. Om saam met die bestes ter wêreld weg te spring en almal se ondersteuning te geniet was ongelooflik; ons Suid-Afrikaners kan net sportbyeenkomste op ’n ander vlak reël!”

Op 30-jarige ouderdom is sy nog betreklik jonk in driekamp-kringe en die beste lê nog waarskynlik vir haar voor.

“Ek is maar nog ’n beginner,” vertel sy laggend. “Soos baie ander mense het ek gedink dat 2020 my jaar is, maar wie weet, die jaar is nog nie verby nie. Ek het nog ’n goeie tien jaar oor as alles volgens plan verloop.”

Swem, fietsry en draf saam met ’n vasberade en talentvolle Magda Nieuwoudt: Nou dít maak ’n driekamp lekker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.