Wêreldno. 1-status wink weer vir Novak

Novak Djokovic. Foto Marco Bertorello/AFP.

Novak Djokovic kan weer Maandag die septer as die wêreld se voorste tennisspeler swaai nadat Jannik Sinner met Carlos Alcaraz in Miami klaargespeel het.

Volgens die amptelike ATP-webblad moes die 19-jarige Spaanse speler sy ATP 1 000-titel suksesvol in Miami verdedig het om die Serwiese ster weg van die nommereenplek te hou.

Djokovic, wat vroeër Steffi Graf se rekord van 377 weke as die wêreld se beste speler verbeter het, sal binnekort weer by die Monte Carlo-meesterstoernooi afslaan.

Hy is vroeër deur Alcaraz onttroon nadat sy inentingstatus beteken het dat hy nie toegang tot die VSA verkry het nie. Hy was ook nie by die onlangse Indian Wells-toernooi in aksie nie.

Sinner, wat ʼn stokkie in Alcaraz se pad gesteek het, kan self ʼn paar ranglysspronge maak as hy met Daniil Medvedev in die komende Miami-eindstryd afreken.

Die jong Italianer kan dan die sesde beste speler ter wêreld word.

Volgens Alcaraz is dit altyd ʼn taai uitdaging om teen Sinner te speel.

“Ek het baie geleenthede in die tweede stel gehad,” het die Spaanse speler gesê nadat hy die halfeindstryd-kragmeting met 6-7, 6-4 en 6-2 verloor het.

“Dit is vir my moeilik om te beskryf hoe ek voel, maar ons het al twee goeie tennis opgedis. Ek het vir ʼn ruk ná hy die wenhou geslaan het baie sleg gevoel, maar ná so 25 minute het ek op positiewe dinge begin fokus en ek het weer geglimlag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.