Wêreldspan swaai die raketsepter teen Europa

Ben Shelton maak gereed om ’n moontlike kishou af te vuur. (Foto: Twitter/Laverbeker)

Ben Shelton, Frances Tiafoe en kie het toegesien dat John McEnroe se Wêreldspan die eerste dag van die Laverbeker onoorwonne afgesluit het.

Dit is die eerste keer ooit dat die internasionale spelers ʼn voorsprong op die eerste dag teen hul Europese teenstanders geniet.

Maar in Novak Djokovic, Roger Federer en Rafael Nadal se afwesigheid geniet die Wêreldspan ʼn gemaklike voorsprong van 4-0 in aanloop tot die tweede dag se spel in Vancouver.

“Dit voel baie goed. Verlede jaar het ons vir die eerste keer met die bekerlouere (13-8) in Londen weggestap en dit sal ongelooflik wees om die prestasie op tuisbodem te herhaal,” het Kanada se Felix Auger-Aliassime gesê.

Vroeër het Federer spanwerk as die sleutel tot Laverbeker-sukses uitgesonder.

“Terselfdertyd moet ʼn speler ook bereid wees om na die raad van spelers te luister wat al vantevore in die toernooi afgeslaan het,” het die Switserse tennislegende gesê.

Federer was deel van die Europese span wat in 2017, 2018 en 2019 met die louere weggestap het, terwyl sy laaste professionele wedstryd ook in Laverbeker-kleure was.

Hy geniet ook die dubbelspelwedstryde.

“Daar is gewoonlik spelerkombinasies wat ons nog nie vantevore gesien het nie. Ek sal byvoorbeeld daarvan hou as Hubert Hurkacz en Andrey Rublev saamspeel, terwyl Ben Shelton en Frances Tiafoe ook goeie spanmaats kan wees.

“Ek is mal oor die supersterkombinasies. Dit is baie opwindend.”

Spanne:

Europa: Andrey Rublev, Casper Ruud, Hubert Hurkacz, Alejandro Davidovich Fokina, Arthur Fils, Gael Monfils en Bjorn Borg (kaptein).

Wêreld: Taylor Fritz, Frances Tiafoe, Tommy Paul, Felix Auger-Aliassime, Ben Shelton, Francisco Cerundolo en John McEnroe (kaptein).

Uitslae:

Ben Shelton klop Arthur Fils met 7-6 en 6-1

Francisco Cerundolo klop Alejandro Davidovich Fokina met 6-3 en 7-5

Felix Auger-Aliassime klop Gael Monfils met 6-4 en 6-3

Frances Tiafoe en Tommy Paul klop Andrey Rublev en Arthur Fils met 6-3, 4-6 en 10-6

Bepalings:

Andrey Rublev teen Taylor Fritz

Casper Ruud teen Tommy Paul

Hubert Hurkacz teen Frances Tiafoe

Hubert Hurkacz en Gael Monfils teen Felix Auger-Aliassime en Ben Shelton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.