Zverev op operasietafel ná Parys-skeeftrap

Alexander Zverev het sy enkel in die wedstryd teen Rafael Nadal beseer. Foto: Tomas Stevens/AFP.

Alexander Zverev was op die operasietafel nadat hy lelik skeefgetrap het in sy halfeindstryd-ontmoeting met Rafael Nadal op Roland-Garros.

“Almal is op ons eie lewensreis en hierdie is deel van myne,” het die jong Duitser op Instagram saam met ’n foto van hom in ’n hospitaalbed gedeel.

Hy sal binnekort die tweede plek op die ATP-ranglys inneem, maar ná verdere mediese ondersoeke in Duitsland is bevestig dat hy drie van die ligamente in sy regterenkel geskeur het.

Volgens Zverev was chirurgie die beste uitweg om ’n spoedige terugkeer na die baan te verseker.

“My rehabilitasiewerk begin nou en ek sal alles binne my vermoë doen om sterker as ooit terug te kom!”

Ondanks ’n paar Meesterstitels kon die 25-jarige speler nog nooit met die silwerware in ’n Grand Slam-toernooi wegstap nie. Tog het hy goed teen Nadal in die afgelope uitspeelwedstryd gespeel.

Maar met die telling op 7-6 en 6-6 het hy ’n bal gejaag en skeefgetrap. Hy het onmiddellik na sy enkel gegryp en is kort daarna deur mediese personeel in ’n rolstoel van die baan gelei.

’n Rukkie later het Zverev op krukke weer sy verskyning gemaak om die beamptes in kennis te stel dat hy nie met die wedstryd sal kan voortgaan nie.

Nadal het sy teenstander omhels, terwyl die toeskouers hom ook staande toegejuig het.

“Dit is baie hartseer. Hy speel tans ongelooflike tennis en hy is ’n baie goeie kollega op die wêreldtoer,” het die Spaanse ster van Zverev gesê.

“Ek weet hoe graag hy ’n Grand Slam-titel wil wen en vanaand was hy baie ongelukkig. Maar ek is seker dat hy binnekort meer as net een titel sal inoes. Ek wens hom alles van die beste toe.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.