Atletiekpresident glo atlete mag politieke protes aanteken

Lord Sebastian Coe. (Lauren Hurley/PA via AP)

Lord Sebastian Coe, die president van Wêreldatletiek, glo dat atlete die reg gegun moet word om ’n politieke standpunt by die Olimpiese Spele in te neem.

Die huidige Olimpiese regulasies bepaal dat enige demonstrasie of politieke, godsdienstige en rassepropaganda verbied word.

Lord Coe glo egter dat atlete die nodige vryheid gegun moet word.

“Ek het dit al vantevore gesê: As ’n atleet besluit om die knie op die podium te buig, dan ondersteun ek dit,” het hy gedurende ’n toer van die Olimpiese stadion in Tokio gesê.

“Atlete is deel van die wêreld en hulle wil die wêreld uitbeeld waarin hulle leef. Só iets is vir my heeltemal aanvaarbaar.”

Volgens Coe is die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) bereid om die kwessie met die atlete te bespreek.

Die internasionale sportbeheerliggaam het egter gister aan die Daily Telegraph bevestig dat sy regulasies steeds van krag is.

Die reëls, wat in Januarie uitgeklaar is, verbied enige vorm van protes in Tokio. Dit sluit in: knielbewegings, om ’n gebalde vuis in die lug hou, asook om die korrekte protokol gedurende medaljeseremonies te ignoreer.

“Daar is egter niks in Wêreldatletiek se gedragskode wat atlete verbied om politieke protes aan te teken nie – mits dit natuurlik op ’n eerbiedige wyse aangepak word, ander atlete in ag neem en nie die sport enigsins skade berokken nie.”

Coe het al vantevore op sy amptelike Twitter-rekening ook sy gewig agter die Black Lives Matter-beweging gegooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.