Bestes meld aan vir SA Rolbaltoernooi

(Argieffoto: Harlequins-rolbalklub/Facebook)

Deur Gert de Jager

Daar word vandeesweek meegeding om 12 goue en ander medaljes in die SA Rolbalkampioenskap vir Gestremdes wat in Pretoria plaasvind.

Sowat 60 spelers is in aksie in die afdeling vir fisiek gestremdes, terwyl byna 40 spelers in die afdeling vir gesiggestremdes sake uitspook. Die afdelings waarin meegeding word, is in enkelspel en pare-wedstryde.

Die eindrondtes vind Saterdag van 08:30 by die Lynnwood-rolbalklub plaas, terwyl die wedstryde in die uitkloprondtes elke dag van 08:30 by die  Lynnwood-, Harlequins- en Groenkloof-rolbalklub gespeel word.

Verskeie spelers wat al voorheen hul Protea-kleure in bogemelde rolbaldissiplines verwerf het, is in aksie.

Vir mense wat nog nie voorheen gesien het hoe blinde spelers of spelers in rolstoele die sport beoefen nie, is dit die ideale geleentheid om te gaan kyk. En wie weet, dalk lyk dit só lekker dat jy sommer by “gewone” rolbal betrokke raak en inskakel by een van die meer as 20 klubs in die Gauteng-Noord Rolbal-distrik.

‘Skaak op gras’

Dié wat weet sê die holruggeryde idee dat rolbal ʼn sport vir ouer mense is, is eintlik lagwekkend – al hoe meer jonger mense begin rolbal speel. Daar is tans reeds ʼn rolbal-skoleliga vir die Gauteng-Noord-streek (die Tshwane-omgewing) en selfs laerskoolspelers tree al hoe sterker na vore in die junior ouderdomsgroepe tydens die nasionale interdistrikte-toernooie wat jaarliks plaasvind.

Rolbal staan nie verniet as “skaak op gras” bekend nie. Die sport bestaan uit veel meer as net die poging om balle so na as moontlik aan die klein wit balletjie te plaas; opponente moet ook uitoorlê word deur sekere skote te speel (of “skuiwe” te maak”) en so die verloop van die spel in jou guns te verander.

Deelnemers aan die SA Gestremde Kampioenskap neem in verskillende klasse deel na gelang van die aard van hul fisieke of gesiggestremdheid.

Die name van die fisiek en die gesiggestremde span wat Suid-Afrika in Augustus by die Wêreldrolbalkampioenskap sal verteenwoordig, sal Saterdag na afloop van die medaljeseremonie aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.