Amerikaanse PGA-reeks: Rory raak die kluts kwyt

Die Noord-Ier, Rory McIlroy. (Foto: Mike Ehrmann / AFP)

Wanneer dinge die dag skeefloop op ʼn gholfbaan, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie, behalwe om jouself reg te ruk.

Die Noord-Ier Rory McIlroy was Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) op die 13de putjie van die tweede ronde van die Travelers-kampioenskap wat op die TPC River Highlands-baan in Cromwell, Connecticut, beslis word, die voorloper met 13 houe onder die baansyfer nadat hy ses voëltjies oor die eerste 10 putjies op sy telkaart ingevul het.

Maar toe tref die noodlot hom op die 14de putjie toe hy vier houe aan baansyfer (syfer 4) afgestaan het en 8 houe op sy telkaart ingevul het. Dit was slegs die sesde keer dat dit met hom gebeur het en die eerste keer sedert 2021.

Hy het op die 15de putjie nog twee houe aan syfer afgestaan, maar het hom met ʼn voëltjie op die 16de reggeruk.

Ondanks sy twee groot blapse het hy steeds 70 houe op sy telkaart ingevul, maar is nog ses houe agter die voorloper, Xander Schauffele (126, -14).

Schauffele word deur sy Amerikaanse landgenote Harris English, Nick Hardy, Cameron Davis (Australië), Patrick Cantlay en Kevin Kisner gevolg op 131 houe, nege houe onder baansyfer.

McIlroy, wat 62 houe in die eerste ronde aangeteken het, is saam met die Ier Seamus Power sewende op 132 houe.

Dit was maar ʼn treurige dag vir die vier Suid-Afrikaners wat ook in die toernooi afgeslaan het, want Garrick Higgo (140), Dawie van der Walt (142), Christiaan Bezuidenhout (144) en Dylan Frittelli (145) kon glad nie die valbyl vryspring nie.

*  In die BMW-toernooi wat by die GC München Eichenried-baan in München gespeel word, loop die Chinees Haotong Li (129, -15) met een hou voor ná die tweede ronde.

Hy word gevolg deur die Nieu-Seelander Ryan Fox, die seun van die oud- All Black-losskakel Grant Fox, op 130, met Daan Huizing van Nederland op 132.

Suid-Afrika se Daniel van Tonder (135, -9), Wilco Nienaber (136), Dean Burmester (137), Louis de Jager en Branden Stone (albei 138) is in die wedloop, met Thriston Lawrence, Louis Oosthuizen en George Coetzee wat op 139 houe saam 37ste is. Jacques Kruiswijk en Zander Lombaard is albei op 140 houe.

*  In die Amerikaanse PGA vir vroue wat by die Congressional-buiteklub in Bethesda in Amerika gespeel word, loop In-Gee Chun van Korea (133, -11) met ses houe voor Lydia Ko van Nieu-Seeland en Jennifer Kupcho van Amerika (albei 139, -5).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (143, -1) en Paula Reto (147, +3) het die afsnypunt gehaal.

Buhai het 72 en 71 houe op haar telkaart ingevul en Reto 70 en 77.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.