BMW-gholftoernooi: Oosthuizen weer in wedloop ná eerste twee rondes

Argieffoto van Louis Oosthuizen (Foto: AP Photo/Charles Krupa)

Bestendigheid is enige gholfspeler se grootste bondgenoot.

Of jy nou ook al die wêreld se beste speler is of oor naweke die afgelope week se frustrasie op ʼn wit gholfballetjie wil uithaal, die uiteinde bly dieselfde.

Laat Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) is die kaf van die koring geskei in die tweede ronde van die BMW-kampioenskapsreeks wat in Illinois in Amerika op Olympia Fields II gespeel word.

Net twee spelers, Patrick Cantlay van Amerika en Rory McIlroy (Noord-Ierland), het beter as baansyfer gevaar. Hulle is albei op 139 houe een hou voor Hideki Matsuyama (Japan) en die wêreld se huidige voorste speler, Dustin Johnson, wat albei op 140 houe, gelyk aan baansyfer, is.

Patrick Cantlay Vrydag gedurende die tweede ronde van die BMW-kampioenskapsreeks. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Dit het sedert 2002 nog nie weer gebeur dat net twee spelers beter as baansyfer ná die eerste twee rondes van ʼn PGA-toernooi kon vaar nie.

Maar dis hoekom rekords opgestel word, om daarop te verbeter.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is ná sy tweede ronde van 69 houe, wat een voëltjie op die 15de putjie (sy sesde putjie) ingesluit het, op 141 houe saam met Adam Scott (Australië) en die Amerikaners Tony Finau, Brendon Todd en Billy Horschel vyfde.

Kan Oosthuizen dit volhou?

Rory McIlroy Vrydag gedurende die tweede ronde van die BMW-kampioenskapsreeks. (Foto: AP Photo/Charles Rex Arbogast)

Dylan Frittelli is op 147.

Altesaam 65 spelers kon nie beter as baansyfer vaar nie. Boonop speel net 70 spelers in dié toernooi en daar is ook geen afsnypunt nie.

Dit beteken dat Tiger Woods (148), Jason Day (150) en Marc Leishman (158) sal moet voortswoeg en saam met hordes ander spelers op reën hoop (ʼn reënkans van 60% word voorspel) om die harde en vinnige setperke met yslike hellings meer speelbaar te maak.

Dis ook die spelers se laaste kans om vir oulaas genoeg FedEx Cup-punte in te samel om tussen die voorste 30 spelers te eindig om dan saam met die beste 30 spelers in die geldryke Toerkampioenskap te speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.