Dié spelers in LIV-reeks te sien

Bubba Watson. Foto: Andrew Redington/Getty Images/AFP

Die omstrede LIV-gholfreeks spog vanjaar met sewe splinternuwe gesigte, onder wie een ʼn Suid-Afrikaner is. Die reeks skop Vrydag af.

Suid-Afrika se Dean Burmester, die Belg Thomas Pieters, die Amerikaner Brendan Steele, Danny Lee van Nieu-Seeland, Sebastion Munoz van Colombië en Chile se Mito Perreira is in die afseisoen deur Greg Norman oorreed om hulle by die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks aan te sluit.

Die LIV-reeks se sewende nuwe gesig is die baie bekende dubbele Amerikaanse Meesters-kampioen Bubba Watson, wat verlede jaar die nie-spelende kaptein van die Niblicksspan was. Die Meesterskampioen van 2012 en 2014 sal brand om die stokke vandeesweek te begin swaai nadat hy sowat agt maande op die krukkelys was weens ʼn kniebesering. Hy het sy span vanjaar na die Range Goats herdoop en Pieters is een van sy spanlede.

Pieters, no. 35 op die jongste wêreldranglys, het sy gholf in die Europese DP World-reeks gespeel, terwyl die ander vyf almal op die gesogte Amerikaanse PGA-reeks in aksie was.

Die Belg was woedend verlede week omdat hy nie plek in die uitsoekveld vir die Genesis-uitnodigingstoernooi op Riviera in Los Angeles kon kry nie, nadat hy die Amerikaanse PGA-reeks vir speelkans genader het. Norman het glo hiervan te hore gekom en Pieters dadelik ʼn kontrak aangebied om hom by die LIV-reeks aan te sluit, wat hy gedoen het.

Pieters was ʼn sterk kandidaat om die Europese Ryderbekerspan te haal wat later vanjaar in Rome in Italië met Amerika kragte meet. Sy kanse op deelname hang egter nou aan ʼn dun draadjie deurdat die Europese reeks op die uitspraak wag van ʼn arbiter wat die regsgeding tussen die DP World- en LIV-reeks twee weke gelede aangehoor het. Die Europese gholfbase sal eers ná die uitspraak besluit oor wie in later vanjaar se Ryderbeker-toernooi mag speel.

Nuweling Steele is ʼn driemalige toernooi-wenner op die Amerikaanse PGA-reeks, maar sy laaste sege was in 2017. Lee (2015) en Munoz (2019) het albei een PGA-titel agter hul name en dié twee groentjies het ook nog nooit die hoogtes bereik wat voorspel is nie.

Burmester (63ste) is tans die voorste SA speler op die wêreldranglys. Hy het hierdie seisoen sy debuut in die Amerikaanse PGA-reeks gemaak en hom tot dusver goed van sy taak gekwyt op wêreldgholf se hoogste verhoog. ʼn Blink toekoms word vir hom voorspel en dit was ʼn reuseverrassing dat hy die Amerikaanse PGA-reeks die rug gekeer het.

Hy is egter groot vriende met Branden Grace en Louis Oosthuizen en bring heelwat tyd saam met hulle in die Suid-Kaap deur, waar almal wonings het. Dié drie sal saam met Charl Schwartzel ʼn gedugte Stingerspan vorm wat vanjaar dalk net die ander 11 deelnemende spanne kan verras.

Die eerste van hierdie seisoen se 14 LIV-toernooie word van Vrydag in Mexiko beslis.

Die LIV-reeks se volledige program is:

24 tot 26 Februarie: El Camaleon-klub in Playa del Carmen in Mexiko

17 tot 19 Maart: The Gallery-klub in Tucson in Arizona

31 Maart tot 2 April: Orange County National-klub in Orlando in Florida

21 tot 23 April: The Grange-klub in Adelaide in Australië

28 tot 30 April: Sentosa-klub in Sentosa in Singapoer

12 tot 14 Mei: Cedar Ridge-klub in Broken Arrow in Oklahoma

26 tot 28 Mei: Trump National Washington-klub in Sterling in Virginia

30 Junie tot 2 Julie: Valderrama-klub in Sotogrande in Spanje

7 tot 9 Julie: Centurion-klub in Londen in Engeland

4 tot 6 Augustus: The Old White Course-klub in White Sulpur Springs in Wes-Virginia

11 tot 13 Augustus: Trump National in Bedminster in New York

22 tot 24 September: Rich Harvest Farms-klub in Sugar Grove in Illinois

20 tot 22 Oktober: Trump National Doral-klub in Miami in Florida

3 tot 5 November: Royal Greens-klub in Jeddah in Saoedi-Arabië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.