Droom-vierbal met Woods dalk gou realiteit

Tiger Woods het vir die laaste keer op St. Andrews in Skotland na die 18de setperk gestap. (Foto: Paul Ellis/AFP)

’n Vierbal waarvan gholfliefhebbers droom – Tiger Woods en Rory McIlroy teen Justin Thomas en Jordan Spieth.

Hoewel nog niks amptelik bevestig is nie, dui alles daarop dat dié vier gholfsterre – wat tussen hulle met 24 Major-titels spog – aanstaande maand in Florida in die VSA in ’n vertoonwedstryd sake sal uitspook.

Volgens die gesaghebbende tydskrif Golf Digest sal Woods (15 Major-titels) en McIlroy (4 titels) op 10 Desember by die Pelican-gholfklub in Belleair in Florida teen Thomas (2 titels) en Spieth (3 titels) speel in ’n kragmeting wat spesiaal vir televisie gereël is en deel sal vorm van The Match-reeks.

Die Payne Stewart-stigting sal die begunstigde wees van dié pare-tweestryd wat oor 12 putjies onder spreiligte beslis sal word.

Stewart was ’n driemalige Major-kampioen en het in Oktober 1999 in ’n vliegtuigongeluk gesterf nadat hy vroeër daardie jaar die Amerikaanse Ope vir die tweede keer gewen het.

In The Match se eerste TV-kragmeting in 2018 in Las Vegas in Nevada het Woods en Phil Mickelson mekaar aangedurf.

Mickelson het Woods op die 22ste putjie getroef om die wenner-vat-alles-wentjek van $9 miljoen daardie jaar in sy sak te steek.

Dié twee Yanks was ook ’n tweede keer slaags toe Woods in 2020 saam met Peyton Manning daarin geslaag het om Mickelson en Tom Brady in Hobe Sound in Florida te klop.

Manning en Brady is twee van die grootste voetbalsterre wat nog in die Amerikaanse NFL gespeel het.

Daar het die laaste weke heelwat bespiegeling geheers oor of Woods vanjaar weer op die gholfbaan in aksie te sien sou wees.

’n Amptelike aankondiging oor die jongste beplande vertoonwedstryd in The Match-reeks word vroeg aanstaande week verwag van Turner Sports, wat die uitsaairegte besit.

Woods het vanjaar in slegs drie toernooie gespeel ná sy motorongeluk in Februarie 2021 waarin hy byna sy regterbeen verloor het.

Die magiese Yank se laaste toernooi-verskyning was in Julie op St. Andrews in die 150ste Britse Ope nadat hy in April in die Amerikaanse Meesters en in Mei in die Amerikaanse PGA gespeel het.

Na verwagting sal Woods en sy seun Charlie weer vanjaar in die PnC-toernooi speel. Dié toernooi is die week ná die beoogde The Match-vertoonstryd.

Die gholfwêreld hou ook duim vas dat Woods van 1 tot 4 Desember in die Bahamas in die Hero-uitdaagtoernooi sal speel.

Daar is nog drie plekke oop in die veld van 20 en liefhebbers van die spel hou asem op oor Woods se moontlike verskyning in dié jaarlikse skouspel by die eksklusiewe Albany-oord waarvan Woods en die Suid-Afrikaner Ernie Els aandeelhouers is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.