Ervaring betaal in Sun City

Branden Grace doen tans die beste van die Suid-Afrikaners. (Foto: ANA Gordon Arons/Gallo Images)

Twee ou hande het Saterdag by Sun City vir die wêreld se jong gholfsterre gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

Op ’n grys en mistige oggend het die twee Engelse veterane Luke Donald (44) en Richard Bland (49) bestendige en soms sprankelende spel op die Gary Player-baan opgedis in die tweede ronde van die Nedbank-uitdaagtoernooi en hulle boaan die voorlopersbord gevestig.

Die 44-jarige Donald gee ná tellings van 65 en 71 op 136 houe (-8) die pas aan saam met die 49-jarige Bland, wat twee agtereenvolgende 68’s op sy telkaart ingevul het om te wys hy is nog lank nie koud nie.

Die twee voorlopers word gejaag deur Suid-Afrika se Branden Grace, wat stil-stil die voëltjies oor die tweede nege ingeryg het om nader aan die pasaangeërs te kruip. Hy het ʼn 67 by sy telling van 70 oor die eerste agttien gevoeg.

Drie groot gunstelinge om Sondag die Nedbank-titel in te palm, die Nieu-Seelander Ryan Fox, die Belg Thomas Detry en Denemarke se Rasmus Hojgaard, beklee op ’n totaal van 138 die gesamentlike vierde plek.

Fox het nie ’n gelukkige einde aan sy dag beleef nie en moes met ’n telling van 74 tevrede wees, terwyl Detry en Hojgaard onderskeidelik tellings van 57 en 69 op hul telkaarte ingevul het.

Nog ’n Suid-Afrikaner, Richard Sterne, is in ’n groep van vyf spelers wat op ’n totaal van 139 die sewende posisie deel. Sterne het ’n goeie 69 gespeel.

Die tweede ronde van die Nedbank-skouspel kon weens deurdringende reën nie Vrydag voltooi word nie en die veld van 66 spelers moes Saterdagoggend om 07:45 na die baan terugkeer.

Ryan Fox (Foto: Christian Kolbert/AFP)

Sowat 150 mm reën het die afgelope week by die Sonstad geval en die Gary Player-baan is nat, maar tog speelbaar.

Donald, deesdae nr. 568 op die wêreldranglys nadat hy in 2011 en 2012 vir veertig weke die nr. 1 was, het nie Saterdagoggend goed begin nie en by die vierde en sewende putjies houe afgestaan toe spel hervat is.

Die Engelsman het egter daarna sy ritme gevind en voëltjies by die tiende, dertiende en veertiende behaal om sy telling tot nege houe minder as syfer te neem.

Ongelukkig vir Donald het hy by die agttiende putjie drie sethoue nodig gehad en ’n verlore hou het hom laat terugsak tot -8.

Bland was die bestendigheid self en vier voëltjies, waarvan drie oor die tweede nege, het verseker dat hy die tweede ronde saam met Donald boaan die voorlopersbord afsluit.

Grace blyk Suid-Afrika se groot hoop op die Nedbank-titel te wees, ’n titel wat hy in 2017 gewen het.

Hy het sy tweede ronde met agt syfers begin voordat hy op al sy suiers begin vuur het deur oor die laaste tien putjies vyf voëltjies aan te teken.

Fox kon Saterdag skynbaar nie die skoonvelde vind nie en het deurentyd die balletjie na regs geslaan. Was dit nie vir puik naderhoue en ’n vuurwarm setyster nie, sou hy baie meer as 74 gespeel het.

Hy het by drie geleenthede syfer gered ná skewe bofhoue wat tot strafhoue gelei het.

Die verwagte reën en donderweer het Saterdag teen die middaguur gelukkig nog nie opgedaag nie, en spelers het met hul derde rondes begin.

Die voorste tellings ná die tweede ronde is (Brit, tensy anders vermeld):

136 – Richard Bland 68-68, Luke Donald 65-71

137 – Branden Grace (SA) 70-67

138 – Thomas Detry (Bel) 73-67, Ryan Fox (NS) 64-74, Rasmus Hojgaard (Den) 69-69

139 – Richard Sterne (SA) 71-69, David Law 70-69, Shubhankar Sharma (Ind) 72-69, Marcel Schneider (Dui) 71-68, Adrian Otaegui (Spa) 69-70

140 – Christiaan Bezuidenhout (SA) 73-68, Ross Fisher 71-69, Sam Horsfeld 72-68, Tommy Fleetwood 70-70, Paul Waring 70-70, Eduardo Molinari (Ita) 69-71, Richie Ramsay 69-71.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.