Europese gholfreeks: Johnson baas in Saoedi-Arabië

Dustin Johnson. (Foto: David Dermer/AP)

Die Amerikaanse gholfspeler Dustin Johnson het sy heen-en-weer-kuiertjie aan Saoedi-Arabië met sy tweede oorwinning in drie jaar in die Saoedi- internasionale toernooi afgesluit.

Johnson, en ʼn hele paar ander Amerikaners wat na dié olieryke land gelok is, sou Sondagaand reeds weer na Amerika teruggevlieg het vir die Amerikaanse PGA-reeks met ʼn tjekkie van sowat R18 miljoen in sy bagasie.

Johnson, die wêreld se voorste speler, het twee jaar gelede die eerste toernooi in die woestyn gewen en was verlede jaar tweede agter Graeme McDowell van Noord-Ierland.

Sondag het Johnson die vierde en laaste ronde in 68 houe voltooi en op 265 houe, 15 houe onder die baansyfer, geëindig. Dit was ook sy negende titel in die Europese reeks.

Hy is gevolg deur sy landgenoot Tony Finau en die Engelsman Justin Rose op 267, met die Skot Calum Hill en die Fransman Victor Perez saam vierde op 268.

Suid-Afrika se George Coetzee (270) was baie bestendig en het 69 houe in die laaste ronde aangeteken om tiende te eindig. Hy het 66, 70 en 65 houe in die eerste drie rondes aangeteken en sy bankbalans met ʼn verdere R976 000 verstewig.

Van die ander Suid-Afrikaners het Wilco Nienaber (276) 33ste geëindig, met Dean Burmester, Justin Walters en Justin Harding almal op 277 in die gesamentlike 41ste plek.

* In Phoenix, Arizona, is Louis Oosthuizen (199 houe) saam met die Koreaan Kyong-Hoon Lee net vier houe agter die twee voorlopers, Jordan Spieth en Xander Schauffele, wat ná drie rondes in die Waste Management-toernooi (Amerikaanse PGA-reeks) op 195 saam voorloop.

Spieth het 61 houe in die derde ronde aangeteken en Schauffele 65.

Oosthuizen het met 63 houe op dié woestynbaan gekook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.