Fin raak kluts kwyt by 18de putjie

Die Finse gholfspeler Sami Välikämi tydens die Johannesburg Ope. (Foto: Twitter/ Sunshine Tours)

Daar is nie ʼn gholfspeler met wie dit nog nie gebeur het nie: Om op die 18de en laaste putjie die kluts kwyt te raak wanneer sy gedagtes na alle waarskynlikheid reeds in die klubhuis is.

Dink maar aan die hele grotes van gholf soos Sam Snead, Arnold Palmer en Phil Mickelson. Ook het dit met Doug Sanders, Colin Montgomerie, Adam Scott en Jean van de Velde in Major-toernooie gebeur toe hulle ook op die laaste putjie ingeplof het.

Saterdag op die Houghton-baan in Johannesburg was die 24-jarige Fin Sami Välikämi met een hou voor die Engelsman Daniel Bradbury toe hulle op die laaste putjie van die derde ronde van die Joburg Ope afgeslaan het.

Die toernooi is deel van die Dubai World Tour en die eerste van die nuwe seisoen.

Välikämi se bofhou het onder ʼn groot boom waarskynlik op ʼn boomwortel beland. Sy naderhou het skaars 30 meter ver getrek en hy was nog dieper in die moeilikheid. Op die ou einde was gelukkig (hy kon onder meer sonder ʼn strafhou uitgooi) om net twee houe aan baansyfer af te staan, maar hy het sy voorsprong ingeboet.

Välikämi het op 197 houe (-16) geëindig en slaan Sondag net een hou agter Bradbury (196, -17) af.

Suid-Afrika se Daniel van Tonder (199, -14) blaas in die voorlopers se nekke, met die 19-jarige Casey Jarvis en Christiaan Bezuidenhout op 201 (-12).

Hulle word op 202 (-11) deur die Fransman Romain Langasque en Louis de Jager gevolg.

Andalusiese Ope

In die Andalusiese Ope vir vroue wat in Spanje gespeel word en deel van die Europese vrouereeks is, loop die 25-jarige Morgane Metraux van Switserland (205, -14) met een hou voor ná die derde ronde van dié toernooi wat op die Alferini-baan beslis word.

Sy word gevolg deur Caroline Hedwall van Swede, Leona Maguire van Ierland en die 17-jarige Spaanse amateur Cayetana Fernandez, wat al drie op 207 houe geëindig het.

Suid-Afrika se Lee-Ann Pace is 23ste op 215, met Nicole Garcia op 220 en Casandra Alexander op 222.

Australiese PGA

In Brisbane is die laaste ronde van die Australiese PGA wat op die Royal Queens-baan in Brisbane gespeel word, deur reën en weerlig onderbreek met die voorloper Cameron Smith wat op die negende putjie was.

Smith was in daardie stadium met een hou (-12) voor sy landgenoot Jason Scrivener (-11) met Ryo Hisatsune van Japan (-10) derde. Hy word gevolg deur nog ʼn Aussie, Min-woo Lee, en Yan Wei-Liu van China (albei -9).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.