Gholf: Baie vrae, nog min antwoorde

Argieffoto (Foto: Rudy and Peter Skitterians/Pixabay)

Die gholfwêreld is in twee geskeur met die aandag wat verdeel is tussen die Kanadese Ope (Amerikaanse PGA-reeks) in Ontario, die Skandinawiese gemengde toernooi vir mans en vroue-spelers in Swede, die Kit Kat-toernooi in die plaaslike Sonskynreeks in Irene en die omstrede LIV-toernooi wat deur Saoedi-Arabië onderskryf word.

In Ontario in Kanada loop die Amerikaner Wyndham Clarke (133, -7) met een hou voor ná die tweede ronde van die Kanadese Ope wat by die St. Charles-buiteklub gespeel word.

Hy word gevolg deur die Engelsman Matthew Fitzpatrick (134) met vier spelers, waaronder Rory McIlroy van Noord-Ierland, asook Jim Knous, Keith Mitchell en Alex Smalley wat saam derde op 135 houe is.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli en Dawie van der Walt (albei 141), is saam 56ste.

* In Halmstad in Swede loop die Aussie Jason Scrivener (132) met twee houe voor in die Skandinawiese toernooi vir mans en vroue.

Scrivener word gevolg deur Linn Grant van Swede, Michael Lorenza-Vera (Frankryk) en Caroline Malgrati (Italië) wat almal op 134 houe is.

Zander Lombard is op 138 gevolg deur Jacques Kruiswijk, Justin Walters en Casandra Alexander (almal op 139).

Darren Fichardt en Stacy Lee Bregman (albei 141) is ook stewig geplaas.

* In Irene loop die jong Ryan van Velzen (64) met een hou voor ná die eerste ronde van die Kit Kat-toernooi in die Sonskynreeks.

Dié toernooi kon ʼn paar maande gelede weens ʼn verspoelde baan en reën nie gespeel word nie.

Dylan Mostert (65) is tweede met Louis Alberts, Malcolm Mitchell en Keagan Thomas (almal 66) wat in Van Velzen se nek blaas.

* Op die Century-baan buite Londen lag die Suid-Afrikaanse spelers wat in die LIV-toernooi speel, byna reeds al die pad bank toe ná die tweede ronde van die toernooi wat oor drie rondes beslis word.

Charl Schwartzel (131, -9) is gerieflik voor met Hennie du Plessis (134, -6) in die tweede plek. Die Amerikaner Peter Uihlein is derde (136) met Oliver Bekker (137), Branden Grace (140), Louis Oosthuizen (141), Justin Harding (142) en JC Ritchie (143) wat ook diep gaan skep.

As Schwartzel kophou, gaan sy bankbalans met ʼn asemrowende R63 miljoen styg en Du Plessis kan R37 miljoen verdien.

Boonop is Schwartzel-hulle voor in die spanafdeling wat ʼn verdere R11,9 miljoen beteken.

Die absurditeit van dié toernooi is dat onbekende Sadon Kaewkanjana (+15), Turk Pettitt (+15), Ittipah Buranatanayrat (+18) en Andy Ogletree (+19) met uiters swak vertonings verseker is van ʼn minimum prysgeld van R1,9 miljoen as hulle laaste sou eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.