Nadal neem wraak op De Minaur

Rafael Nadal het vir Alex de Minaur in Madrid geklop. (Foto: Thomas Coex/AFP)

Hoewel dit onmoontlik is om die horlosiewysers heeltemal terug te draai, het Rafael Nadal gewys waartoe hy in staat is toe hy met Alex de Minaur in Madrid afgereken het.

Die Spanjaard het sodoende wraak geneem nadat die einste Aussie hom in die Barcelona-ope uitgeskakel het.

Die eindtelling was nou 7-6 en 6-3 in die wenner van 22 Grand Slam-titels se guns en dit was sy eerste oorwinning sedert 2022 teen ʼn teenstander wat onder die voorste 20 spelers wêreldwyd tel.

Maar ondanks die kragtige houe en gebalde vuis- feesviering meen Nadal dat daar steeds harde werk op hom wag.

“Ek het beslis nog meer tyd nodig. Daar was hier en daar ʼn paar goeie oomblikke en ek kon positiewe spel lewer, maar dit is nog baie wispelturig,” het die 37-jarige speler gesê.

Tog is hy dankbaar dat hy vir De Minaur kon klop.

“Ek is super bly om mededingende spel teen ʼn topspeler soos Alex op te lewer. Dit beteken baie vir my, en die atmosfeer op die baan was ongelooflik.”

Nadal het onder meer voor koning Felipe VI van Spanje afgeslaan, terwyl die oudsokkerspeler Zinedine Zidane ook die aksie vanuit sy pawiljoensitplek gevolg het.

“As ek vir ʼn paar weke op ʼn streep kan speel, gaan ek kyk hoe ver ek dinge kan vat. Ek wil egter so mededingend as moontlik op die baan wees.”

Hy sal in die volgende ronde teen Argentinië se Pedro Cachin te staan kom.

Uitslae:

Coco Gauff klop Dayana Yastremska met 6-4 en 6-1

Beatriz Haddad Maia klop Emma Navarro met 6-4 en 6-4

Madison Keys klop Liudmila Samsonova met 6-2 en 6-3

Ons Jabeur klop Leylah Fernandez met 7-5, 2-6 en 6-4

Jelena Ostapenko klop Maria Lourdes Carlé met 6-3 en 6-3

Maria Sakkari klop Sloane Stephens met 6-1 en 6-3

Iga Swiatek klop Sorana Cirstea met 6-1 en 6-1

Casper Ruud klop Miomir Kecmanovic met 6-4 en 6-1

Ben Shelton klop Tomas Machac met 6-0 en 6-2

Felix Auger-Aliassime klop Adrian Mannarino met 6-0 en 6-4

Jakub Mensik klop Grigor Dimitrov met 6-2, 6-7 en 6-3

Rafael Nadal klop Alex de Minaur met 7-6 en 6-3

Daniil Medvedev klop Matteo Arnaldi met 2-6, 6-4 en 6-4

Jannik Sinner klop Lorenzo Sonego met 6-0 en 6-3

Thiago Monteiro klop Stefanos Tsitsipas met 6-4 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.