Luister: Wilma sing oor rolprentromanse in ‘Koebaai aan my hart’

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy lyk dalk skaam en teruggetrokke, maar wanneer daar ʼn kitaar of mikrofoon in Wilma van Heerden se hand is, woeker dié 20-jarige met haar treffende stem.

Haar debuutenkelsnit, “SySoen”, het ʼn jaar terug sy buiging op die Maroela Media Top-20-trefferparade in die no. 1-posisie gemaak en het sedertdien goue status bereik.

ʼn Tweede treffer, “Maklike wiskunde”, het gevolg, maar nou droom Wilma met haar nuutste enkelsnit, “Koebaai aan my hart”, oor die opgewondenheid van die perfekte liefde en ʼn nuwe verhouding.

“Dit gaan oor daardie regte tipe rolprentromanse waaroor ʼn mens droom, maar nie seker is of dit ʼn werklikheid kan word nie. Met party gevalle is die verhouding soos ʼn romantiese rolprent, maar dit voel asof dit in my geval dikwels meer van ʼn romantiese komedie is,” skerts die krulkopsangeres.

Die lied se gepaardgaande video is by The Grove-inkopiesentrum in Pretoria verfilm en het volgens Wilma haar gedwing om ietwat buite haar gemaksone te tree.

Wilma sê sy vind haar selfvertroue in musiek. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Mens kan nie sien dat ek dat ek skaam is in die musiekvideo nie, maar my hart klop in my keel,” erken sy.

Die musiekgogga het haar op sesjarige ouderdom reeds gebyt, maar dié Meyerton-boorling het eers tydens haar studentejare by die Campus of Performing Arts (COPA) haar vlerke as musikant behoorlik begin gesprei.

“Ek was hierdie skaam meisie wat bang was vir kritiek en kitaar alleen in my kamer gespeel het. Toe besluit ek om opnames van covers te begin plaas,” vertel sy.

ʼn Video waarin sy Spoegwolf se treffer “Lenie Blou” sing, het later die aandag van die musiekvervaardigers by Muse getrek. Die res is geskiedenis.

ʼn Vollengte-album en samewerking met haar helde Bernice West en Riana Nel is nog op haar wenslysie.

“Ek kyk veral op na Bernice en dink sy is net ongelooflik talentvol.”

Op die vraag of sy al vir haar eie hart in die werklikheid “koebaai” moes sê, sê sy met ʼn knipoog: “Nog nie heeltemal nie, maar ek het my ogie op iemand.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.
  • Kyk hier na die musiekvideo vir “Koebaai aan my hart”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.