Gholf: Bekker in sy tuisdorp op pad na sege

Oliver Bekker.(Foto: Gregory Shamus/Getty Images North America/AFP)

Elf jaar gelede, in 2012, het Oliver Bekker sy tweede toernooi as ʼn beroepspeler gewen toe hy die Dimension Data Pro-Am met twee houe gewen het.

Draai die horlosie aan en Bekker staan Sondag op Fancourt in George op die drumpel van sy tweede oorwinning in dié toernooi in die Sonskyn- en Europese Uitdaagreeks wanneer hy met ʼn byna onaanvegbare voorsprong van vyf houe (199, -18) in sy tuisdorp afslaan.

Bekker het 64 houe in Saterdag se derde ronde op die Outeniqua-baan aangeteken. Hy is vyf houe voor Luke Jerling, wat 71 houe op die Montagu-baan (daar is op al drie bane op Fancourt gespeel) aangeteken het.

Bekker, wat aan die DP World Tour deelneem, het besluit om vandeesweek weer in die Sonskynreeks te speel en dit werp baie vrugte af. Hy het sy 67 en 68 in die eerste twee rondes met 64 houe in die derde ronde opgevolg.

Jerling (204, -13) word gevolg deur die Spanjaard Manuel Elvira en Adam Blomme van Swede (albei op 205, -12).

Hulle word op 206 (-11) gevolg deur Tom Murray (Engeland) en Joel Girbach (Switserland) saam op 206 (-10).

* In Scottsdale, Arizona, is die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler, stewig op pad om die Phoenix-Ope te wen en om Rory McIlroy van Noord-Ierland uit die eerste plek as die wêreld se voorste speler op die ranglys te skuif.

Scheffler het 68 houe in die derde ronde voor derduisende toeskouers aangeteken en is op 200 houe (-13) twee houe voor die Kanadees Nick Taylor en die Spanjaard Jon Rahm (albei 202, -11) met nog ʼn Kanadees Adam Hadwin en Jordan Spieth saam vierde op 203 (-10) in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

McIlroy, wat 73 houe in die eerste ronde aangeteken het, het 70 houe in die derde ronde gespeel en is op 210 houe (-5) saam in die 28ste posisie en na alle waarskynlikheid buite die wedloop.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli, wat 67 houe in die derde ronde aangeteken het, is op 206 houe (-7) 16de, met Erik van Rooyen, wat 74 houe aangeteken het, op 215 in die 61ste posisie.

Scheffler sal by McIlroy as die wêreld se voorste speler oorneem as hy die toernooi wen en die Noord-Ier nie wen nie of saam met twee ander spelers tweede eindig nie.

* Op die Laguna National-baan in Singapoer het Suid-Afrika se Ockie Strydom in die derde ronde van die Singapoer-Ope, wat deel is van die Road to Dubai-reeks, na vore gebeur en is hy op 204 houe (-15) slegs een hou agter die voorloper, Sami Valimaki van Noorweë.

Strydom, wat 67 houe in die derde ronde aangeteken het, is saam met die Spanjaard Alejandro Del Rey tweede.

Hulle word gevolg deur Matthieu Pavon (Frankryk) en Jeung-Hun Wang van Korea op 204 (-14).

Suid-Afrika se Zander Lombard (207, 12) is ook stewig geplaas met Deon Germishuys op 213.

* In Rabat in Marokko is Suid-Afrika se Casandra Alexander (219, gelyk aan baansyfer) 12 houe agter die voorloper Maja Stark van Swede (207, -12) in dié toernooi in die Europese reeks vir vroue.

Stark word deur haar landgenoot Linn Grant op 211 (-9) houe gevolg met Aditi Ashok van Indië derde op 212 (-7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.