Gholf: Bezuidenhout by in wedloop

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout by die PGA-kampioenskap op Wentworth in Engeland (10 September 2021) (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Christiaan Bezuidenhout kan die kaarte lelik deurmekaar krap wanneer hy Sondagmiddag op Wentworth in Engeland in die laaste ronde van die BMW PGA-kampioenskap afslaan.

Bezuidenhout, wat ná die eerste ronde saam voor was nadat hy 64 houe aangeteken het, het effe teruggesak in die tweede ronde (72), maar hy het die stang in die derde ronde weer vasgebyt met 68 houe.

Hy is op 204 houe (12 onder baansyfer) saam met die Wallieser Jamie Donaldson, die Amerikaner Billy Horschel en die Australiër Adam Scott derde.

Die Italianer Francesco Laporta is voor op 202 (-14), gevolg deur Engeland se Laurie Canter (203).

Van die ander Suid-Afrikaners is Justin Walters (206) saam tiende met Dean Burmester en George Coetzee (albei 210) en Brandon Stone (211) steeds in die prentjie.

* In Switserland in Holzhäusern het die 18-jarige Atthaya Thitikul van Thailand die Switserse Ope vir vroue met een hou gewen nadat sy 66 houe in die derde en laaste ronde aangeteken het.

Thitikul het op 203 houe geëindig, een hou voor Marianne Skarpnord van Noorweë.

Nicole Garcia van Suid-Afrika het sewende op 205 houe geëindig nadat sy tellings van 65, 69 en 71 op haar telkaart ingevul het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.