Gholf: Fichardt-hulle jaag Noorweër

Darren Fichardt (Foto: Darren Fichardt/Facebook)

Die Noorweër Viktor Hovland het sy neus voorgekry in die derde ronde van die BMW International-toernooi wat by die Muenchen Eichenreid-buiteklub in München beslis word. Dit sal ʼn baie spesiale poging deur sy teenstanders verg, onder wie ʼn groot groep Suid-Afrikaners, om hom in te haal.

Hovland is op 199 houe, 17 onder die baansyfer, nadat hy 64 houe in die derde ronde aangeteken het.

Die baan en toestande pas hom soos ʼn handskoen en hy speel baie bestendig. Dit is slegs die tweede keer dat hy in ʼn Europese gholftoernooi speel, hoewel hy reeds twee keer in Amerika (waar hy gestudeer het en woon) gewen het.

Hy word gevolg deur die Spanjaard Jorge Campillo (202), met die 46-jarige Suid-Afrikaner Darren Fichardt (203), wat in ʼn stadium die klubhuisvoorloper was, tog binne trefafstand.

Die Ier Niall Kearney en Bernd Wiesberger van Oostenryk is saam met 205, met Suid-Afrika se Shaun Norris, Justin Harding en Daniel van Tonder op 206, gesamentlik in die sesde posisie.

Louis Oosthuizen (208) is ná rondtes van 70, 67 en 71 straks uit die wedloop, asook Zander Lombard (209), Jacques Kruiswijk (210) en JC Ritchie en Dean Burmester (albei op 212).

* In Atlanta loop die twee Amerikaners Lizette Salas en Nelly Korda (albei 201, -15) saam voor ná die derde ronde van die PGA-toernooi vir vroue, een van vrouegholf se Majors.

Hulle word gevolg deur Paphangkorn (Patty) Tavatanaki van Thailand, Giula Molinaro van Italië en Celine Boutier van Frankryk op 206.

Suid-Afika se Paula Reto (227) is laaste nadat sy 81 houe in die derde ronde aangeteken het.

* In Cromwell in Amerika slaan Bubba Watson en sy Amerikaanse landgenoot Kramer Hickock (albei 200) as gesamentlike voorlopers af in die laaste ronde van die Travelers-kampioenskap.

Die Aussie Jason Day is saam met sy landgenoot Cameron Smith en Russell Henley (VSA) tweede op 201.

Geen Suid-Afrikaner kon die afsnypunt vir die laaste twee rondtes vryspring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.