Gholf: Lawrence weet hoe om te wen

Suid-Afrika se Thriston Lawrence tydens die DP World Tour-reeks in Johannesburg.
(Foto: Giuseppe Cacace / AFP)

Dit neem sommige gholfspelers jare lank om hul eerste toernooi te wen.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence is Sondagoggend op die Houghton-baan in Johannesburg stewig op koers om sy vyfde titel in die DP World Tour-reeks te wen wanneer hy met ʼn voorsprong van drie houe in die laaste ronde van die Joburg-Ope afslaan.

Lawrence het 67 houe in die derde ronde aangeteken en is op 195 houe (-15) drie houe voor sy landgenoot Dean Burmester (198, -12).

Jacques Kruyswijk en Nikhil Rama is saam derde op 199 (-11) met Zander Lombard wat in hul nekke blaas op 200 (-10).

Lawrence (26) het in 2021 ook die Joburg-Ope gewen en was verlede week in Dubai vyfde in die Road to Dubai-afsluitingstoernooi waar hy saam met die beste spelers in die Europese reeks skouer geskuur het.

Rama, wat ná die tweede ronde die alleenvoorloper in die Joburg-Ope was, het ʼn nagmerriebegin in die derde ronde gehad toe hy vier keer op die eerste putjie geset het en twee houe aan baansyfer afgestaan het.

Hy het op die vierde putjie ʼn verdere hou aan baansyfer afgestaan nadat sy bofhou tussen die bome beland het.

Dit het die deur vir Lawrence oopgeswaai om die voortou reeds op die tweede putjie te neem nadat hy ʼn sethou van net meer as vier meter ingerol het.

Lawrence, wat ná Saterdag se derde ronde gesê het dat hy by sy wedstrydplan in die vierde ronde gaan hou, het rondes van 62, 66 en 67 houe in die eerste drie rondes aangeteken.

Hy het tot dusver 16 voëltjies en ʼn arend oor die eerste 54 putjies aangeteken en net drie keer houe aan baansyfer afgestaan.

Hy slaan die bal baie ver, sy naderhoue en setwerk is puik, sy selfvertroue hemelhoog en die baan en plaaslike toestande pas hom soos ʼn handskoen om nog ʼn titel op sy kerfstok te plaas.

*   By Brisbane se Royal Queensland-buiteklub het die Australiër Min-Woo Lee Sondagoggend die Australiese PGA-kampioenskappe met drie houe gewen.

Lee het die laaste ronde in 68 houe voltooi en op 264 (-20) geëindig.

Sy telling was drie houe beter as dié van Rikuya Hoshino van Japan (267, -17) met Marc Leishman (Australië) derde op 268 (-16), gevolg deur Curtis Luck (Australië) vierde op 269 (-15).

* In die Europese reeks se Andalusiese Ope vir vroue wat in Spanje beslis word, het Suid-Afrika se Lee-Ann Pace effe teruggesak in die derde ronde toe sy 73 houe aangeteken het. Sy het op 211 houe (-5) geëindig.

Pace is agt houe agter die voorloper Kirsten Rudgeley van Australië wat op 203 houe (-13) geëindig het, met Nederland se Anne van Dam en Aditi Ashok van Indië (albei 205, -11) wat saam tweede is.

Hulle word gevolg deur Ana Pelaez van Spanje, Manon de Roey van België en Celine Boutier van Frankryk wat almal saam vierde is op 207 (-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.