Gholf: Scheffler steek steeds sy kleim af

Scottie Scheffler (Foto: Kevin C. Cox/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Die Amerikaner Scottie Scheffler kan wêreldgholf nog baie lank oorheers noudat Rory McIlroy se spelpeil ʼn insinking beleef en Jon Rahm in die LIV-reeks speel.

Scheffler het Sondagaand op Bay Bill in Orlando, Florida, die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi met vyf houe gewen nadat hy die vierde en laaste ronde in 66 houe voltooi het.

Hy het op 273 houe (-15) geëindig en vyf houe voor sy landgenoot Wyndham Clark (278, -10) klaargemaak met die Ier Shane Lowry derde op 279, nege houe onder baansyfer.

Dit was Scheffler se tweede Arnold Palmer-titel in drie jaar en sy sewende oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks sedert hy in 2023 die Spelerskampioenskap gewen het.

McIlroy, wat die huidige toernooi in 2018 gewen het, het in die laaste ronde uitgesak en 76 houe aangeteken om saam 21ste op 287 houe te eindig.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (288, gelyk aan baansyfer) en Christiaan Bezuidenhout (291, +3) het ook in die prysgeld gedeel.

* In Hongkong het Suid-Afrika se Dean Burmester in die derde en laaste ronde van die LIV-toernooi na vore geskiet en 68 houe behaal om die beste van die vier Suid-Afrikaners te vaar.

Burmester het saam agste geëindig op -10.

Dit was steeds ʼn ongelooflike R7,4 miljoen in sy bultende bankrekening.

Die toernooi is deur die Mexikaan Abraham Ancer op die eerste uitspeelputjie van sy driestryd teen Paul Casey (Engeland) en Cameron Smith (Australië) gewen.

Hulle het almal saam op -13 houe geëindig, met Carlos Ortiz van Mexiko en Chili se Joaquin Niemann saam vierde op -12.

Van die ander Suid-Afrikaners het Louis Oosthuizen 19de klaargemaak op 202, gevolg deur Charl Schwartzel (208) en Branden Grace (209).

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span het in die laaste ronde uitgesak en negende op 21 houe baansyfer geëindig.

Die Crushers (-35) was eerste, gevolg deur Torque (-33) en Ripper (-32).

*  Op die Glendower-baan in Edenvale het die Italianer Matteo Manassero in skemerdonkerte die Jonsson Worldwear-toernooi gewen wat deel is van die Dubai World Tour en Sonskynreeks.

Die laaste ronde is deur weerlig onderbreek en eers om 18:00 hervat.

Manaserro, wat 11 jaar laas kon wen, het op 262 houe (-24) klaargemaak,  wat drie houe beter was as Suid-Afrika se Thriston Lawrence en Shaun Norris asook Engeland se Jordan Smith (almal 265, -21).

Die Spanjaard Angel Hidalgo was vyfde op 266, gevolg deur sy landgenoot Ivan Cantero en Suid-Afrika se Oliver Bekker, wat albei op 267 houe geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.