Gholf: Scottie se pelle sy weerligafleiers

Scottie Scheffler (5 Januarie 2024) (Foto: Michael Reaves/Getty Images via AFP)

In sport sê hulle moet jy hard, taai, genadeloos en dikvellig wees, want jy moet die houe kan vat en uitdeel.

Maar die nimlike Amerikaner Scottie Scheffler is besig om die teendeel te bewys, want hoewel hy nie ʼn duit sal terugstaan op die gholfbaan nie, het hy ʼn baie klein hartjie.

Scheffler, wat twee jaar gelede die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi gewen het, is vanjaar op Augusta met een hou voor (209, -7) ná die derde ronde.

Hy is een hou voor sy landgenoot Collin Morikawa (210, -6), gevolg deur Max Homa (211, -5), die jong Sweed Ludvig Aberg (212,-4) en Bryson DeChambeau (213, -3).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is op 225 (+9) saam 47ste.

Ander belangrike tellings is dié van die Noord-Ier Rory McIlroy (219, +3), die Spanjaard Jon Rahm (221, +5) en Tiger Woods (227, +11) nadat hy 82 houe in die derde ronde aangeteken het.

Scheffler het twee jaar gelede ook voor die laaste ronde (en oorwinning) op dieselfde stoel tydens sy mediakonferensie gesit en vertel hoe hy die oggend soos “’n baba gehuil” het. Hy sê hy het baie lank oor die Meesters gedroom en het saam met sy vrou, Meredith, die trane laat rol.

Scheffler het vanjaar ʼn huis tydens die toernooi saam Sam Burns gehuur, wat nie kon kwalifiseer nie. Waaroor Scheffler erg bekommerd is, is dat Meredith hoog swanger is en in Dallas agtergebly het.

“Ek sal beslis ʼn manier moet vind om vinnig huis toe te gaan,” het Scheffler aan honderde joernaliste oor sy moontlike dilemma gesê.

Om sy aandag af te trek, het hy ʼn hele klomp van sy ou kollege-vriende genooi om saam met hom te kuier, ontbyt te eet en om as weerligafleiers te dien.

“Dis saam met hierdie ouens maklik om nie oor gholf te gesels nie. Hulle is van my beste vriende … dit werk uit, want dit beteken dat ek nie die naweek alleen is nie.”

* In die plaaslike Sonskynreeks is die groentjie Jonathan Broomhead op koers om sy eerste titel in die reeks te beklink nadat hy op die Serengeti-baan naby Kempton Park die voortou ná die derde ronde van die Toerkampioenskap geneem het.

Broomhead het 67 houe in die derde ronde aangeteken en is op 203, 13 houe onder baansyfer en een hou voor Kyle Barker (204, -12).

Hulle word op -10 gevolg deur Wilco Nienaber, Neil Schietekat, Darren Fichardt en Rupert Kaminsky, met Robin Williams op -9 en Pieter Moolman en JC Ritchie albei op -7.

Bronne: The Golf Chanell en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.