Gholf: Suh weet waarvan Player gepraat het

Justin Suh van die VSA (2 Junie 2023) (Foto: Andy Lyons/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Donkiejare gelede het Gary Player het een van die groot waarhede in gholf verkondig: slaan af om te beïndruk, maar setwerk laat die geld inrol.

Die Amerikaner Justin Suh is een van die spelers wat daaraan glo, want hy loop ná die tweede ronde van die Memorial-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks wat by die Muirfield Village-buiteklub in Dublin, Ohio gespeel word, op 136 houe (-8) met een hou voor Hideki Matsuyama van Japan (137, -7).

Hulle word gevolg deur die Amerikaners David Lipsky en Patrick Cantlay op 138 (-6).

Die Noord-Ier Rory McIlroy het ook na vore gebeur nadat hy 68 houe in die tweede ronde aangeteken het. Hy is met 140 houe (-4) binne trefafstand.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (143) en Garick Higgo (144) is ook in die wedloop.

Suh gebruik dieselfde Nike-setstok wat hy jare gelede vir slegs 50 Amerikaanse dollar voor ʼn junior toernooi in graad agt aangeskaf het.

Die feit dat hy dié setstok gebruik nie, is volgens die Golf Channel dalk nie nuuswaardig nie, maar Nike vervaardig sedert 2016 nie meer setstokke nie. Dit het Sun genoop om vyf setstokke op eBay aan te skaf waarmee hy steeds speel.

* In Hamburg in Duitsland loop die Duitser Maxmilian Kiefer met een hou voor ná die tweede ronde van die Porsche Europese Ope.

Kiefer het met 140 houe (-6) in die klubhuis geëindig en is een hou voor die Noord-Ier Tom McKibbin, Jordan Smith van Engeland en David Law van Skotland, wat almal op 141 (-5) geëindig het.

Hulle word deur ses spelers, Paul Waring en Matthew Baldwin (albei Engeland), Santiago Tarrio (Spanje), Kristian Krogh Johannessen (Noorweë), Clement Sordet (Frankryk) en Ewen Ferguson (Skotland) op 143 in die gesamentlik vyfde plek gevolg.

Die Suid-Afrikaanse aanslag het maar gekwyn, met Bryce Easton en Wilco Nienaber (albei 146), Justin Walters en Deon Germishuys (albei 147), Zander Lombard (148) en Jayden Schaper (150) wat vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Sun Bet Challenge wat by Sun City gespeel is, het Hennie Otto die uitspeelstryd teen Hayden Griffiths op die eerste uitspeelputjie gewen nadat albei op 210 houe (-6) saam eerste geëindig het.

Martin Rohwer en die jong Rovan Rebula, Ernie Els se susterkind, was saam derde op 211 (-5), met Jean-Paul Strydom en Jonathan Broomhead op 213 (-3) saam vyfde.

Dit was die 46-jarige Otto se 14de oorwinning in die Sonskynreeks.

Hy het Vrydagoggend met ʼn agterstand van drie houe in die laaste ronde afgeslaan, maar ʼn voëltjie op die eerste putjie gevolg deur nog vier voëltjies tussen die sesde en 10de putjies, het hom tot die uitspeelstryd teen die 29-jarige Griffiths gevoer.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se vroue-reeks wat op die Liberty National-baan in New Jersey gespeel word, loop die Australiër Min-Jee Lee en die Amerikaner Cheyenne Knight saam voor op 137 (-7).

Hulle is een hou voor Nieu-Seeland se Lydia Ko (138, -8), gevolg deur Aditi Ashok van Indië, Atthaya Thitukul van Thailand, Rose Zhang van Amerika en Brooke Henderson van Kanada wat almal op 139 houe (-5) klaargemaak het.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (146, +2) het vir die laaste twee rondes gekwalifiseer, maar is in die 49ste posisie ná haar tellings van 75 en 71.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.