Gholf: Suid-Afrikaanse vlag staan punt in die wind

Argieffoto van Louis de Jager (Foto: SA Ope/Twitter)

Dis nie net die Springbokrugbyspan en nasionale krieketspan wat Saterdag in hul onderskeie Wêreldbeker-toernooie in die kollig gaan wees nie –  op die gholfbaan het die Suid-Afrikaanse vlag ook hoog gewapper.

Suid-Afrika se Louis de Jager was Vrydag lank die alleenvoorloper in die klubhuis van die San Roque-buiteklub in Valderrama in Spanje.

Maar hy is laatmiddag deur Jeong-Weon Ko van Suid-Korea en Adrian Otaegui van Spanje in die tweede ronde van die Europese reeks en DP World Tour se Andalusiese toernooi ingehaal.

De Jager het 67 houe in die tweede ronde aangeteken en het op 135 (nege houe onder baansyfer) die voortou geneem.

Ko en Otaegui het later ook op nege houe onder baansyfer geëindig, met die Nieu-Seelander Daniel Hillier vierde op 136 (-8).

Ses spelers, Jeremy Freiburghaus (Switserland), Jeff Winther (Denemarke), Mattias Schmid en Nick Bachem (albei van Duitsland), Michael Lorenza-Vera (Frankryk) en Jason Scrivener (Australië) is saam vyfde op 137, sewe houe onder baansyfer.

Suid-Afrika se Thriston Lawrence ( 140, -4) en Zander Lombard en Deon Germishuys (albei 142, -2) is ook in die wedloop.

* In die LIV-gholf se laaste spantoernooi wat in Miami beslis word, het die Suid-Afrikaanse Stingers-span in die kwarteindronde na vore geskiet deur al drie wedstryde teen die Iron Heads te wen.

Die Suid-Afrikaners se kaptein, Louis Oosthuizen, kon toe sy teenstanders vir Saterdag se volgende ronde kies en hy het op Torque besluit.

In die ander stryde speel die 4Aces (eerste gekeur) teen die Hyflyers (negende), die Crushers (tweede) pak die Cleeks (tiende) en die Range Goats (vierde) speel teen die Fireballs (sesde).

In die kwarteindronde het Oosthuizen vir Kevin Na (Iron Heads) met 5&3 geklop, Branden Grace het Scott Vincent met 2&1 verslaan en Dean Burmester en Charl Schwartzel het Sihwan Kim en Danny Lee met 2&1 geklop.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Zozo Zozo-kampioenskap wat by die Accordia Golf Narasjino-buiteklub in Japan beslis word, het die Amerikaners Eric Cole en Justin Suh (albei 136, -8) saam die voortou ná die tweede ronde geneem.

Hulle word in die derde plek gevolg deur nog ʼn Amerikaner Beau Hossler en Satoshi Kodeira van Japan op 135 (-7), met die Argentyn Emiliano Grillo en die Amerikaner Kurt Kitayama saam vyfde op 136 (-6).

Suid-Afrika se Garrick Higgo, wat 82 houe in die eerste ronde aangeteken het, het hom aan die toernooi onttrek.

* By die Wildekus het Jbé Kruger die wind op die eerste dag van die Sonskynreeks se Vodacom Origins of Golf-toernooi getem toe hy 68 houe (-2) aangeteken het.

Kruger, wat volgens die Sonskynreeks in Julie die Shigeo Nagashima Invatational Sega Sammy-toernooi gewen het, speel die eerste keer dié seisoen in die plaaslike reeks en het reeds op die eerste putjie ʼn voëltjie behaal.

Die 37-jarige Kruger is een hou voor Luke Brown, Hennie O’Kennedy en Ruan de Smidt (al drie op 69 houe).

Vaughn van Deventer is vyfde op 70 houe, gevolg deur Jared Harvey, Ethan Smith, Keenan Davidse en Haydn Porteous saam sesde op 71 (+1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.