Gholf: Tweestryd tussen Scheffler en Rahm

Spanje se Jon Rahm (Junie 2021) (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Die organiseerders van die Phoenix-Ope wat op TPC Scottsdale in Arizona beslis word, het ná Vrydag se tweede ronde van dié toernooi in die Amerikaanse gholfreeks ʼn slapelose nag beleef omdat die ronde nie voltooi kon word nadat dit te donker geraak het nie.

Maar hulle kon darem ook rustig agteroor sit, want hul kon kwalik ʼn beter draaiboek geskryf het.

Die Amerikaner Scottie Scheffler, wat tweede op die gholfranglys is, het 64 houe, sewe onder die baansyfer, aangeteken om met twee houe (132, -10) voor die Spanjaard Jon Rahm (134, -8), wat derde op die ranglys is, voor te loop.

Rahm het 66 houe (-5) aangeteken voordat dit te donker geword het om voort te speel.

Al wat kortgekom het, was dat die Noord-Ier Rory McIlroy, die voorste speler op die gholfranglys, sy ronde voltooi het. McIlroy het net 13 putjies van sy ronde voltooi en moet sy ronde Saterdagaand (SA tyd) voltooi voordat hy in die derde ronde afslaan. McIIroy was in daardie stadium vyf houe onder die baansyfer.

Tussen McIlroy, Scheffler en Rahm het hulle sedert Augustus verlede jaar ses oorwinnings in toernooie behaal en nie een keer buite die top-8 geëindig nie.

Die Kanadees Adam Hadwin was saam met Rahm op 8 houe onder die baansyfer, maar hy moet nog agt putjies in die tweede ronde voltooi.

Hulle word gevolg deur Wyndham Clarke van Amerika en Sung-Jae Im van Korea (albei 135, -7).

Suid-Afrika se Dylan Frittelli het op 139 houe geëindig (-3), met Erik van Rooyen (-1) op die 11de putjie.

* In George pluk Suid-Afrika se Luke Jerling die vrugte van harde werk op die oefenbof en loop hy saam voor ná die tweede ronde van die Dimension Data Pro-Ama wat op Fancourt se drie bane (Links, Montagu en Outeniqua) beslis word en deel is van die Sonskynreeks is samewerking met die Europese reeks.

Jerling het Vrydag op die Links-baan 68 houe aangeteken. Die Sweed Adam Blomme het op die Montagu-baan 67 houe aangeteken en is saam met Jerling voor op 12 houe onder die baansyfer.

Hulle is twee houe voor nog twee Suid-Afrikaners Oliver Bekker (Montagu) en Adam Breen (Links).

Jerling het aan die Sonskynreeks se webwerf gesê hy was Woensdag tot laat op die oefenbof om te probeer vasstel wat verlede week verkeerd geloop het toe nie vir die laaste twee rondes van die Kaapstad-Ope kon kwalifiseer nie.

Volgens hom het hy ook ʼn lang gesprek met sy afrigter gehad en ry hy nou op die kruin van die golf.

Suid-Afrika se Wilco Nienaber (138) is saam met sy landgenote Brandon Stone en Kyle Barker, die Spanjaard Manuel Elvira en Conor Purcell van Ierland op -9.

* By die Laguna National Golf-buiteklub in Singapoer loop die Noord-Ier Tom McKibbin (133, -11) met twee houe voor ná die tweede ronde van die Singapoer-Ope wat deel is van die Europese reeks.

McKibbin het 64 en 69 houe op sy telkaart ingevul en word gejaag deur die Fransmanne Matthieu Pavon en Julien Brun, die Engelsman Nathan Kimsey en die amateur Wenyi Ding van China, wat almal 10 houe onder die baansyfer was.

Suid-Afrika se Ockie Strydom en Zander Lombard is saam 25ste op 139 (-7).

* In die Europese reeks vir vroue loop die Sweed Maja Stark (138, -8) met twee houe voor ná die tweede ronde van die Lalla Meryem-bekertoernooi wat by die Royal Golf Dar Es Samal in Rabat (Marokko) beslis word.

Stark word gevolg deur Aditi Ashok van Indië op 140 (-6) met Linnea Stroem van Swede (142, -4) derde.

Suid-Afrika se Casandra Alexander, wat verlede week by Sun City die SuperSport-uitdaagtoernooi gewen het, is saam 14de op 147 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.