Gholf: Van Rooyen beur na vore

Erik van Rooyen het 67 houe in die tweede ronde van die Heritage-toernooi aangeteken. (Foto: Kevin C. Cox / AFP)

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het die spinnerakke van sy sukkelende vertoning in verlede week se Amerikaanse Meesters op Augusta afgeskud toe hy hom reggeruk het in die Heritage-toernooi wat by Hilton Head Island in Suid-Kalifornië gespeel word.

Van Rooyen (+8), wat nie vir die laaste twee rondes op Augusta kon kwalifiseer nie, het 67 houe in die tweede ronde van die Heritage‑toernooi, wat deel van die Amerikaanse reeks is, aangeteken. Hy het op 136 houe (-6) geëindig en is net drie houe agter die voorloper, Patrick Cantlay van Amerika.

Cantlay het, ondanks ʼn kwaai wind van meer as 50 kilometer per uur, vier voëltjies oor die laaste vier putjies aangeteken. Hy is nege houe (133) onder die baansyfer nadat hy tellings van 66 en 67 op sy telkaart ingevul het.

Nog ʼn Amerikaner, Robert Streb (135), is alleen tweede, met nog drie Amerikaners, Cameron Young, Cameron Tringale en Aaron Wise, saam met Van Rooyen in die gesamentlike derde posisie.

Charl Schwartzel, wat agtste in die Meesters geëindig het, het 72 houe in die tweede ronde van die Heritage-toernooi aangeteken en is in die 34ste posisie op 140, twee houe onder die baansyfer.

Branden Grace en Dylan Frittelli is albei op 141.

Van Rooyen het in die tweede ronde ses voëltjies aangeteken, waarvan hy vier op die eerste nege putjies behaal het. Hy het op 32 houe gedraai, maar die wind het sy tol geëis toe hy op die 14de en 18de putjies houe aan syfer afgestaan het.

* In Hawaii is Suid-Afrika se Ashleigh Buhai gesamentlik agtste ná die derde ronde van die Lotte-kampioenskap vir vroue, wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks.

Hyo-Joo Kim van Korea is voor op 206 (-9) gevolg deur Brianna Do van Amerika en Hinako Shibuno van Japan op 209.

Buhai, wat 71, 71 en 70 houe in die eerste drie rondes aangeteken het, het op 212 houe geëindig (-4).

Nog ʼn Suid-Afrikaner, Paula Reto, is 77ste nadat sy 83 houe (227, +11) in die derde ronde aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.