Gholf: Weerlig en donderweer kon Jbé nie keer

Jbé Kruger (2013) (Foto: Jbé Kruger/Facebook)

Jbé Kruger sal die derde ronde van die Mangaung-Ope in Bloemfontein nooit vergeet nie.

Hy het ʼn nuwe baanrekord van 61 houe opgestel en is net een hou agter die voorloper Craig Ross van Skotland ná die onvoltooide derde ronde, toe donderweer en weerlig die spelers klubhuis toe gejaag het.

Spel is skuins ná 17:00 halt geroep weens swaar weer.

Ross (-19) was die voorloper en hy het darem reeds die 16de putjie voltooi. Hy behoort sy derde ronde Sondagoggend vroeg (mits die weer dit toelaat) te voltooi. Die organiseerders hoop om 07:00 reeds weer in te val.

Hy word gevolg deur Kruger en Scott Fernandez (Spanje), wat albei hul rondes voltooi het en op -18 geëindig het.

Hulle word gevolg deur Luke Jerling (op 13de putjie) wat op -17 is, met Tristen Strydom en Louis Albertse (albei voltooi) saam met Alejandro Del Rey van Spanje wat op  -16 op die 16de putjie geëindig het.

* In Nairobi loop die Skot Ewen Ferguson (199) voor ná die derde ronde van die Kenia-Ope wat deel is van die Europese reeks. Hy is vier houe voor Marcus Kinhult van Swede en Ashun Wi van China (albei op 203).

Van die Suid-Afrikaners is Thriston Lawrence en Richard Sterne albei op 206 met Craig Howie (207) ʼn verdere hou terug.

* In Amerika loop Viktor Hovland van Noorweë met een hou voor ná die tweede ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi wat by die Bay Hill-gholfklub in Orlando, Florida, gespeel word. Hy is twee houe (135) voor Rory McIlroy van Noord-Ierland, die Amerikaner Talor Gooch en Tyrell Hatton van Engeland (al drie op 137).

Die Suid-Afrikaners het swak gevaar, met Dylan Frittelli op 146 en Christiaan Bezuidenhout op 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.