Gholf: Woordestryd woed voort

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Die strydbyle tussen spelers wat aan die Amerikaanse PGA- en Europese (Dubai World Tour) reekse en Greg Norman se LIV-reeks deelneem, is opnuut geslyp.

Norman en Phil Mickelson het tydens die jongste LIV-toernooi wat in Chicago gespeel word, opnuut bevestig dat die LIV-reeks hier is om te bly en hoe dit gholf se doelpale reeds verskuif het. Dit terwyl Bryson de Chambeau vertel het hoe hy dit geniet om aan die reeks deel te neem.

Maar ai, om darem Saterdagaand ʼn poedel op die baan te sien wat in die tweede van drie rondes saam met sy baas op die baan gestap het, maak mos vreemde deure oop.

Aan die ander kant van die skaal het Rory McIlroy, een van die grootste kritici van die LIV-reeks, hom nie daarby laat intrek nie en is hy ná die derde ronde van die Italiaanse Ope in Rome op 204 (-9) net een hou agter die voorloper Matthew Fitzpatrick van Engeland (203, -10).

Hulle word gevolg deur Aaron Rai (Engeland) op 204, met Suid-Afrika se Oliver Bekker stewig in die wedloop op 206 (-7).

Van die ander Suid-Afrikaners is Louis de Jager en Darren Fichardt (albei 212, -1) ook tussen die voorlopers, met Justin Walters (215) en Brandon Stone (217) wat ook aandag trek.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Fortinet-toernooi wat in Napa in Kalifornië beslis word, loop die Amerikaner Justin Lower (203, -13) met een hou voor sy landgenoot Max Homa en die Engelsman Danny Willett (albei op 204, -12).

Korea se Byeong-Hun An is ook binne trefafstand op 205 (-11).

* In Chicago het Cameron Smith (Australië) en Dustin Johnson rolle omgeruil ná die tweede ronde van die LIV-toernooi.

Smith is op -9 die voorloper en Johnson, wat 73 houe aangeteken (die eerste keer dat hy oor baansyfer in die LIV-reeks gespeel het), is op -8. Johnson was ná die eerste ronde voor en Smith tweede.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel (-6), Louis Oosthuizen (-4) en Branden Grace (-2) is ook stewig geplaas, maar Shaun Norris (149, +5) is laaste, hoewel hy meer as R2,1 miljoen vir sy moontlike laaste plek sal ontvang.

* By San Lameer in Southbroom aan die KwaZulu-Natalse Suidkus, het die 38-jarige Wynand Dingle die Vodacom of Origins-toernooi met een hou gewen.

Dit was Dingle (200) se eerste oorwinning in die reeks nadat hy ‘n kwaai aanslag van Jaco Prinsloo (201) en Sean Bradley (204) moes afweer. Hulle is gevolg deur Rupert Kaminsky (206).

Danie van Niekerk van Lichtenburg, wat ná die tweede ronde voor was, het 75 houe in die laaste ronde aangeteken en het op 208 vir sy sewende posisie geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.