Gholfdrama vir Zander in VAE

Zander Lombard in aksie. (Foto: Twitter/ Zander Lombard)

Zander Lombard (-16) gaan nog ʼn bietjie langer moet wag om sy eerste toernooi op die DP World-toer te wen. Hy het waarskynlik menige Suid-Afrikaanse gholfondersteuner vandag op die TV laat skel nadat hy sy laaste ronde in 72 houe voltooi het. Dit het ses brouhoue, ʼn arend en vier voëltjies ingesluit.

Lombard het die laaste ronde met ʼn voorsprong van een hou afgeslaan. Dit het laat in die laaste ronde nie gelyk of hy eers ʼn kans staan om steeds die titel te wen nie.

Dit was totdat Daniel Gavins (-17) van Engeland op die agtiende putjie aangetree het met ʼn voorsprong van drie houe. Lombard was toe vier houe agter Gavins.

Die Engelsman se kop het hom gelos en hy het op die laaste putjie die bal twee keer in die water geslaan. En dit was nie die einde van die drama nie. Hy het sy sesde hou op die syfer-5 darem op die setperk geslaan en toe ʼn pragtige lang sethou ingeslaan vir ʼn liederlike sewe. Dit het sy telling op 17 onder die baansyfer te staan gebring.

Lombard het ondanks sy wipplank-dag steeds ʼn kans gestaan om Gavins se telling te ewenaar en ʼn valbylstryd af te dwing. Dit sou die perfekte draaiboek vir die gholftoernooi gewees het, maar Lombard het die lang sethou vir ʼn arend verbrou en moes met ʼn voëltjie en die gesamentlike tweede plek tevrede wees.

Sy veggees ondanks al die terugslae in die laaste ronde is uitstekende voorbereiding vir sy eerste DP World-toeroorwinning wat net om die draai behoort te wees.

Op die Sonskyntoer het die Zimbabwiër Benjamin Follett-Smith (-15) weer die Bain’s Whisky Kaapstad-ope gewen. Hy was ook in 2019 die kampioen.

Die Fransman Ugo Coussaud (-14) en Jaco van Zyl van Suid-Afrika was in die gesamentlike tweede plek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.