Gholfster mag nie in Ope speel

Engeland se Lee Westwood. (Foto: Andy Lyons/Getty Images via AFP)

Die Engelse gholfster Lee Westwood bevind hom steeds in die wildernis weens sy betrokkenheid by die omstrede LIV-reeks. Westwood, wat met 44 toernooi-oorwinnings wêreldwyd spog, het in April vyftig jaar oud geword en sy tande geslyp om aanstaande maand op Royal Porthcawl in Wallis aan die Britse Ope vir seniors deel te neem.

Die wêreld se gewese no. 1-speler se inskrywing vir die komende Senior Ope is egter deur die organiseerders van dié major-toernooi van die hand gewys.

Volgens die reëlingskomitee het Westwood uitstaande boetes wat deur die DP World-reeks aan hom opgelê is. Alvorens hierdie boetes nie betaal word nie, sal Westwood nie toegelaat word om in die Senior Ope te speel nie. Die sperdatum vir Westwood om sy boetes, wat glo byna R20 miljoen beloop, te betaal, is 6 Julie.

Die DP World-reeks het alle spelers geskors wat hulle verlede jaar by die Saoedi-Arabiese gefinansierde LIV-reeks aangesluit het. Nadat die Europese reeks in April vanjaar ʼn arbitrasiesaak teen die geskorste spelers gewen het, is die betrokke spelers ook reuse-boetes opgelê omdat hulle in die onderskeie LIV-toernooie gespeel het. Om die opgelegde boetes te systap, het verskeie van die geskorste spelers, onder andere Westwood, hul lidmaatskap van die DP World-reeks prysgegee.

Westwood is erg omgekrap omdat hy deelname aan die Senior Ope geweier is. Hy het op Twitter gesê hy het nie geweet dat hy ʼn lid van ʼn reeks moet wees om in die Ope te kan speel nie.

Die Senior Ope word gesamentlik deur die DP World-reeks en die Royal & Ancient Golf Club (R&A) aangebied.

Westwood was een van die LIV-spelers wat gejuig het ná die onlangse skokaankondiging dat die Amerikaanse PGA-reeks en die LIV-reeks vrede gemaak en ooreengekom het om in die toekoms saam te werk.

Presiese besonderhede oor hoe wêreldgholf in die toekoms gaan lyk, is egter steeds duister. Een van die spel se legendes, Tom Watson, het na afloop van die Amerikaanse Ope in Los Angeles te velde getrek teen die sogenaamde vredes- en samewerkingsooreenkoms tussen die PGA- en LIV-reekse.

Die 73-jarige Watson, ʼn agtmalige major-kampioen, het in ʼn ope brief aan die PGA-baas Jay Monahan sy misnoeë uitgespreek dat geen spelers by die onderhandelinge betrokke was nie.

Hy wil ook weet wat die PGA-reeks se presiese finansiële posisie is en bevraagteken of die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds (PIF) die enigste entiteit is wat die gholfbeheerliggaam finansieel kan red. Monahan is sedert die samewerkingsaankondiging met siekverlof en geen verdere besonderhede oor die planne om die spel voortaan onder een sambreel te bestuur, is al bekend gemaak nie.

Bykomende bronne: Planet Sport, Daily Mirror.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.