Grace derde in LIV-kompetisie

Die Suid-Afrikaner Branden Grace. (Foto Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-gholfspan is Sondag in die pylvak van die LIV-reeks se Mexiko-toernooi na die podium getroef, maar vir Branden Grace het die miljoene nog steeds ingerol.

Die 34-jarige boorling van Pretoria wat deesdae in die Suid-Kaap woon, het ’n allemintige $1,5 miljoen (sowat R27,6 miljoen) in sy sak gesteek nadat hy derde in die individuele afdeling geëindig het.

Grace het die derde en laaste ronde in 67 houe – vier houe minder as die baansyfer – voltooi om op ’n totaal van 203 (-10) klaar te maak.

Die Amerikaners Charles Howell III (63 vir 197) en Peter Uhlein (68 vir 201) het Grace na die kroon gesteek en onderskeidelik $4 miljoen (sowat R73,6 miljoen) en $2,1 miljoen (sowat R39,1 miljoen) vir hul moeite verdien.

Waar Grace van Vrydag af op sy stukke was, kan dieselfde ongelukkig nie van die res van sy Stinger-spanmaats gesê word nie.

Nuweling Dean Burmester (70 vir 212) en die ou hand Charl Schwartzel (69 vir 217) het die eerste twee dae gesukkel en was in die geheel nie op hul beste nie.

Maar dit was egter die teleurstellende spel van spankaptein Louis Oosthuizen wat die Stingerspan gestriem het. Hy het van meet af bitter ontuis voorgekom en Sondag die toernooi met ’n powere 76 afgesluit om op 221 ver agter sy spanmaats te eindig.

Die Stingerspan (-12) het uiteindelik vierde in die spankompetisie geëindig.

Die toernooi is gewen deur Bryson de Chambeau se Crushersspan (-26), met Dustin Johnson se 4Acesspan (-17) in die tweede plek en Joakim Niemann se Torguespan (-13) wat die SA viertal op die nippertjie met ’n enkele hou verslaan het.

PGA-reeks

In die Amerikaanse PGA-reeks het die Yank Chris Kirk die vyfde titel van sy loopbaan ingeoes toe hy die Honda Classic in Florida ná ’n valbylstryd gewen het.

Kirk het die nuweling Eric Cole met ’n voëltjie by die eerste valbylputjie verslaan.

Die nuwe Honda-kampioen se wentjek het $1,5 miljoen (sowat R27,6 miljoen) beloop.

MJ Daffue (-6) het die beste van die SA spelers vertoon.

Joburg Ope

Die Johannesburger Casandra Alexandra sal Woensdag as een van die groot gunstelinge in die Joburg Ope op die Modderfontein-gholfbaan in Edenvale afslaan.

Die 23-jarige Alexander ry op die kruin van die golf nadat sy Vrydag die tweede keer dié seisoen in die Sonskynreeks geseëvier het, deur die Jabra Classic op Glendower met een hou te wen.

Sy het op -14 een hou voor die Spanjaard Mireia Prat klaargemaak, met die nuweling Kaleigh Telfer op -12 in die derde plek.

Die Joburg Ope, wat oor 72 putjies beslis word en tot Saterdag duur, word in oorleg met die Europese vrouereeks aangebied en het ’n pryspot van R5,8 miljoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.