Groot gevolge vir LIV-rebel Sergio Garcia

Die Spanjaard Sergio Garcia en Europa se gholfbase sit lankal nie meer langs dieselfde vuur nie en regstappe staar nou die gewese Amerikaanse Meesterskampioen in die gesig. (Foto: Roslan Rahman/AFP)

Die Spanjaard Sergio Garcia en Europa se gholfbase sit lankal nie meer langs dieselfde vuur nie en regstappe staar nou die gewese Amerikaanse Meesterskampioen in die gesig nadat hy versuim het om ʼn boete van sowat R2,3 miljoen aan die DP World-reeks te betaal.

Garcia is een van 17 lede van die Europese gholfreeks wat verlede jaar met £100 000 beboet is nadat hulle die organisasie die rug gekeer en hulle by die nuwe omstrede LIV-reeks aangesluit het.

Die boetes is destyds tydelik opgeskort nadat die groep ongelukkige DP World-lede hulle tot die hof gewend het om die boetes en hul skorsing te betwis. Die gholfbase het egter sowat ʼn maand gelede in die hof geseëvier en die spelers het tot Woensdag gehad om hul boetes te betaal.

Garcia was al speler wat nie teen eergister se spertyd sy boete betaal het nie. Inteendeel, hy het Woensdagoggend sy lidmaatskap van die DP World-reeks beëindig en sodoende alle bande met die organisasie verbreek.

Die Engelsmanne Lee Westwood, Ian Poulter en Richard Bland het soos Garcia Woensdag as lede van die DP World-reeks bedank. Al drie het egter hul boetes betaal voordat hulle ook die Europese reeks finaal vaarwel toegeroep het.

Garcia mag dalk dink dat sy weiering om sy boete te betaal geen gevolge vir hom gaan inhou nie, maar dit is nie die geval nie.

Die DP World-reeks oorweeg glo reeds regstappe teen die Spanjaard, terwyl die kans goed is dat hy in oneer sal kom by die onderskeie beheerliggame wat die jaar se vier Major-toernooie aanbied. Dit kan dus ʼn einde aan sy deelname aan enige van die Grand Slam-toernooie bring, al sou hy vir enige van dié toernooie kwalifiseer.

As Amerikaanse Meesterskampioen kan Garcia jaarliks op Augusta meeding solank hy wil. Sy regstreekse toelating tot die ander Majors het egter verlede jaar verstryk en hy sal in die toekoms jaarliks daarvoor moet kwalifiseer.

Garcia het reeds die sluitingsdatum vir kwalifikasie vir die Amerikaanse Ope in Julie misgeloop en kan ook nie meer vir aanstaande week se Amerikaanse PGA-toernooi kwalifiseer nie. Sy besluit om sy DP World-lidmaatskap prys te gee, het ook enige kans op deelname aan die Britse Ope beëindig omdat hy nie meer wêreldranglyspunte kan inoes nie.

Garcia, Westwood, Poulter en Bland se besluit die afgelope week om die DP World-reeks te groet, bring ook ʼn einde aan die debat of hulle vir die Ryderbeker-toernooi in September in Italië oorweeg moet word.

Slegs lede van die DP World-reeks kan in die tweejaarlikse skouspel teen Amerika meeding. Gevolglik kwalifiseer die viertal LIV-lede nie vir insluiting in die Europese span nie en het die spankaptein Luke Donald nou meer duidelikheid oor watter spelers hy kan oorweeg.

Garcia is die suksesvolste Europese speler in Ryderbeker-geskiedenis, terwyl Westwood en Poulter die afgelope twee dekades reusestaatmakers en sleutelspelers vir Europa was.

Of enige van dié drie in vanjaar se span sou gewees het, is ʼn ope vraag. Op meriete sou hulle nie die paal gehaal het op die kwalifiseringslyste nie, maar kaptein Donald kon dalk net een of twee van hulle in sy agterkop gehad het om te verseker dat die Europese span nie tekort skiet aan ervaring nie.

Hoe dit ook al sy, dit hoort nou alles tot die verlede en Donald sal nou meer duidelikheid hê oor die samestelling van sy span.

Die Europese reeks is juis vandeesweek op die Marco Simone-baan in Rome vir die Italiaanse Ope. Dit is waar die Ryderbeker-toernooi oor vier maande beslis sal word.

Die Fransman Matthieu Pavon het Donderdag se eerste ronde in 63 houe – agt houe minder as die baansyfer – voltooi om ʼn voorsprong van twee houe te neem.

Justin Walters (-2) was die voorste Suid-Afrikaanse speler op die voorlopersbord.

* In Zimbabwe op die Royal Harare-baan het Wynand Dingle ná die eerste ronde van die Sonskynreeks se Zimbabwe Ope die pas aangegee met ʼn telling van 66 (-6).

Die 36-jarige Dingle het verlede jaar sy deurbraaksege behaal toe hy op San Lameer baas was en mik na ʼn tweede titel op ʼn baan waar hy verlede jaar onder die top tien klaargemaak het. Die hoogtepunt van sy spel op die eerste dag was ʼn arend drie op die 16de putjie.

Peter Karmis, Neil Schietekat, Jacques de Villlers en Adam Breen het op 67 (-5) die tweede plek gedeel.

*In Amerika in die Wells Fargo-toernooi is die Engelsman Tommy Fleetwood op -6 die voorloper ná die eerste ronde. Hy kort ʼn paar stewige vertonings oor die volgende maande indien hy Donald se Ryderbekespan wil haal en sal in sy noppies wees met sy vertoning oor die eerste 18 putjies.

Die Ier Rory McIlroy is op -3 stewig geplaas ná sy sukkelvertoning op Augusta verlede maand.

MJ Daffue (-1) is die beste geplaas van die Suid-Afrikaanse spelers in die veld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

LiV sal dit met graagte betaal. LiV bring nuwe lewe in n sterwende sport in, nes T20, en 7s. Ek persoonlik hou van liv en pga, van toets krieket – nie T20s nie, en 15man rugby en nie 7s nie. Maar vandag se tyd soek mense vermaak, vinnig en wil nie wag nie.

Tino ·

Die arrogante PGA en DP moet maar oor hulself kom, wie en wat gee hulle alleen reg op wereld gholf…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.