Ierse Ope: Water blus McIlroy se vuur

Rory McIlroy (Foto: Stact Revere/Getty Images/AFP)

Enige gholfspeler kry die een of ander tyd nagmerries oor water, al is jy ook die tweede voorste speler op die wêreldranglys.

Wanneer daar water op die gholfbaan is, trek dit jou soos ʼn magneet aan.

Die Noord-Ier Rory McIlroy was Sondag by die K-klub in Kilroy op die sewende putjie van die laaste ronde van die Ierse Ope-gholftoernooi die voorloper met 13 houe onder die baansyfer.

Maar toe tref die noodlot hom… water.

McIlroy het die bal met sy naderhou in die water geslaan en toe begin sy treurmare.

Hy het nog twee keer, op die 11de en 16de putjies, die bal ook in die water geslaan en sy aanslag was daarmee heen.

McIlroy het 74 houe in die laaste ronde aangeteken en saam in die 16de posisie geëindig.

Dit het die deur vir die 25-jarige Sweed Vincent Norrman oopgelaat om na vore te beur.

Die jong Sweed het in die 21ste posisie afgeslaan en was ná die eerste ses putjies gelyk aan baansyfer. Daar was baie min sprake dat hy sou wen.

Maar toe vat hy vlam en teken sewe voëltjies oor die laaste 12 putjies aan om op 274, 14 houe onder die baansyfer, in die klubhuis te eindig. Hy het 65 houe in die laaste ronde aangeteken.

Dit was slegs sy tweede oorwinning in sy beroepsloopbaan nadat hy twee maande gelede die Barbasol-kampioenskap in Amerika gewen het, wat gesamentlik deur die Amerikaanse PGA en Europese reeks aangebied is.

Die Duitser Hurley Long was Sondag tweede (275, -13) wat aan hom sy spelersregte in die Europese reeks en DP World Tour vir 2024 verseker het.

Hy is gevolg deur die Ier Shane Lowry, die Australiër Ryan Fox, Grant Forrest (Skotland) en Suid-Afrika se Thriston Lawrence, wat saam derde op 276 (-12) was. Lawrence het na vore gebeur toe hy 66 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Van die ander Suid-Afrikaners het Erik van Rooyen op 279 (-9), Bryce Easton 282 (-6), Hennie du Plessis 284 (-4) en Louis de Jager 285 (-3) ook in die prysgeld gedeel.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks se Queen City-toernooi wat by die Kenwood CC Kendale-buiteklub in Cincinnati beslis is, het Australië se Minjee Lee en Charley Hull van Engeland saam op 272 houe (-16) geëindig.

Lee het die uitskietstryd op die tweede uitspeelputjie gewen. Dit was haar eerste oorwinning sedert sy die Amerikaanse Ope in 2022 gewen het.

Ruoning Yin van China was derde op 274 (-14), met Amerika se Ally Ewing vierde (276, -12) en Morgane Metraux (Switserland), Melissa Reid (Engeland), Mi-Hyang Lee (Suid-Korea), Yuka Saso (Japan), Ariya Jutanugarn (Thailand) en Peiyun Chien (China) saam vyfde op 277 (-11).

Suid-Afrika se Paula Reto was 23ste op 282 (-6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.