Jarvis lewer indrukwekkende vertoning in SA Ope

Suid-Afrika se Casey Jarvis. (Foto: Casey Jarvis/Instagram)

Die onbesonge Sweed Joakim Lagergren is die voorloper, maar dit was die jong en talentvolle Boksburger Casey Jarvis wat die aandag getrek het op die eerste dag van die SA Ope-kampioenskap op Blair Atholl in Lanseria.

Lagergren het laat Donderdagmiddag vir Jarvis van die boonste trappie van die Ope-voorlopersbord gestoot nadat hy ʼn baie goeie telling van 65 houe – sewe houe minder as die baansyfer – op sy telkaart ingevul het.

Die 32-jarige Sweed se vertoning was foutloos en hy het sewe voëltjies in sy ronde aangeteken.

Agterna het die Europese geldspeler gesê hy het ʼn genotvolle dag op die baan beleef en kon nie beter gespeel het nie.

Hoewel Lagergren puik spel opgedis het, was dit die voortreflike vertoning vroeër deur die 20-jarige Jarvis wat kenners aan die praat gehad het.

Die gewese SA en Afrika-amateurkampioen het die grootste gedeelte van die dag die pas aangegee met ʼn telling van 66 (-6) ná ʼn indrukwekkende ronde wat sewe voëltjies en een brouhou ingesluit het.

Jarvis het hom in Augustus verlede jaar by die beroepsgeledere aangesluit en pas sy Europese spelerskaart beklink.

“Natuurlik wil ek die SA Ope wen, maar daar is nog ʼn baie lang pad oor voordat die kampioen gekroon word.

“Ek het [Donderdag] my spel goed bestuur op ʼn baan wat bitter lank is vir iemand soos ek wat nie die balletjie ver slaan nie.

“Dit was ʼn strawwe geestelike uitdaging wat ek bemeester het.

“As ek geduldig bly en nie druk op myself plaas nie, speel ek goed en dis wat [Donderdag] gebeur het.

“Ja, my verwagtinge is altyd hoog en dit geld vandeesweek ook. Ek wil wen en dit is my doelwit,” het die speler van die State Mines-gholfklub aan die Oos-Rand gesê.

Jarvis se spel was om die minste te sê uiters indrukwekkend. Kenners meen hy het sy skoolgeld betaal en is nou reg om sukses op die grootste verhoog te behaal en in die voetspore van legendes soos Ernie Els te stap wat die SA dubbel (die SA Ope- en SA amateurtitel) vermag het.

Lagergren en Jarvis word op -5 gejaag deur Jovan Rebula, Louis de Jager en die Engelsman Andy Sullivan.

Rebula is die nefie van Els en soos Jarvis een van die jonger sterre in die Sonskynreeks van wie daar baie in die toekoms verwag word.

Rebula slyp sy tande stilweg op plaaslike bodem en het op dag een van die glansryke stryd ses voëltjies aangeteken, maar ongelukkig vir hom ook ʼn brouhou by die 14de putjie.

Die 26-jarige gewese Britse amateurkampioen blyk op die oog af nie gepla te wees deur druk nie en dit sal geen verrassing wees nie indien hy vandeesweek onder die voorlopers eindig.

Tien spelers deel op -4 die gesamentlike sesde posisie. Onder hulle is vier van die land se bekende spelers: Christiaan Bezuidenhout, JC Ritchie, Hennie du Plessis en Heinrich Bruiners.

Alle oë is op Bezuidenhout wat as een van die groot gunstelinge beskou word om Sondag die wennerstrofee omhoog te lig.

Die 29-jarige Bezuidenhout het ʼn tweede SA Ope-titel in sy visier.

Hy het in 2020 by Sun City koning gekraai in die wêreld se tweede oudste Ope-kampioenskap.

Die Delmas-boorling kon beter vertoon het met ʼn bietjie meer geluk op die setperke, maar het andersins stewige spel op dag een opgedis en is beslis ʼn sterk kandidaat wat Sondag in die wedloop om die louere sal wees.

Twee ander groot gunstelinge om die titel in te oes, Thriston Lawrence en Dean Burmester, moes albei met tellings van 70 tevrede wees en sal bly wees dat hulle hulself nie in die voet geskiet het op dag een nie.

Lawrence het vyf voëltjies behaal, maar ook drie brouhoue wat hom teen die einde agteruit sien boer het.

Burmester se telkaart was soortgelyk aan Lawrence s’n en drie brouhoue het bederf wat ʼn blink vertoning kon gewees het.

Twee strydrosse van SA gholf, Charl Schwartzel en Dylan Frittelli, het nie op alle silinders gevuur nie en moes met tellings van 72 (gelyk aan die baansyfer) tevrede wees.

Twee gewese SA Ope-kampioene, Hennie Otto (73) en Brandon Stone (75), sal Vrydag moet uithaal en wys sou hulle die halfpadmerk-afsnykerf wil vryspring en die naweek saamspeel.

*In Sydney is Ashleigh Buhai in die vierde plek na die eerste ronde van die Australiese Ope-kampioenskap.

Die verdedigende kampioen het ʼn stewige telling van 68 aangeteken en is op -4 twee houe agter die twee voorlopers Rachel Lee en Jenny Shin ná dag een van die toernooi wat deur gure weer gekenmerk word.

*In Albany in die Bahamas het Tiger Woods goed begin in sy terugkeer net om teen die einde uit te sak in wat in die geheel vir hom ʼn bitter teleurstellende ervaring sou gewees het.

Die 15-malige Major-kampioen was ná 11 putjies op -1 in die sesde posisie, maar het sewe putjies later vir ʼn telling van 75 (+3) geteken in die eerste ronde van die Hero-wêrelduitdaagtoernooi.

Dinge het vir Woods begin skeefloop op die 12de putjie toe hy die setperk met sy naderhou gemis het.

By die 15de het hy twee houe aan syfer afgestaan nadat hy sy bofhou links in die bosse getrek het en sy tweede hou skaars 30 cm kon beweeg.

Die laaste maaghou vir Woods was ʼn drieset op die 17de.

“Ek is teleurgesteld. My spel is verroes en my besluitneming was swak.

“Maar nou weet ek darem geestelik wat dit gaan verg om terug te kom. Fisiek is ek reg hoewel ek ʼn bietjie styf is ná die dag se spel,” het Woods na die tyd gesê.

Die Amerikaners Brian Harman en Tony Finau is op -5 die voorlopers nadat albei tellings van 67 aangeteken het.

Hulle word gevolg deur Jordan Spieth op 68, met Cameron Young, Scottie Scheffler en Max Homa wat op 69 die vierde plek deel.

Woods is in die 18de posisie in die uitsoekveld van 20 spelers.

Bykomende bronne: DP World Tour, PGA Tour

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.